‘n (Bengaalse) tier in die tenk!
Die vakansie-langpad bly maar die beste manier om ‘n motor te toets, veral as alle moontlike soorte paaie gery word en die motor ‘n ordentlike vrag dra. Die afgelope wintervakansie was weereens ‘n bewys daarvan dat hierdie toetsomstandighede die goeie en swak punte van ‘n motor die beste te voorskyn bring eerder as die werk-toe-en-terug soort van ervarings waaroor joernaliste soms verplig is om oor te skryf omdat daar te véél motors in ‘n kort tyd getoets moet word.
Kort na die ontvangs van die Suzuki Ciaz is die langpad gevat sonder om eers die basiese spesifikasies en prys vooraf vas te stel. Dit is eers met die skryf van hierdie berig wat die tegniese inligting nadergetrek is en aangename verrassings opgelewer het!
Die eerste indruk van die Ciaz is positief; die stilering is modern, die kattebak ruim en die binneruimte vir vyf mense aan boord méér as ruim en gerieflik. Voeg daarby die toerusting soos ‘n volle klank- en vermaakstelsel met verskeie poorte om musiek te luister terwyl die Garmin navigasieskerm gekonnekteer is en daar nog ekstra sokke is om die selfone ook te laai. Hierdie is praktiese eienskappe in ‘n tyd wat Eskom nie altyd toelaat dat elektriese apparate in die vakansiewoonstelle gelaai kan word nie.
Dankie Suzuki, ook vir die feit dat van die beheerfunksies ook op die stuurwiel gemonteer is sodat daar verstellings gemaak kan word sonder om die bestuurder se aandag op die pad onnodig af te trek. Pluspunt.
Sonder om te weet wat onder die enjinkap is omdat daar op die bak geen aanduiding is van enjingrootte nie, was die eerste gewaarwording dat dit moontlik ‘n 1.2 liter turbo-enjin kon wees, die driesilinder variasies wat deesdae so gewild is om goeie brandstofverbruik met verrigting te kombineer. Versnelling teen hoër snelhede was nie asemberowend nie maar was steeds aanvaarbaar omdat die vyfgangratkas handig ingespan kon word.
Die pad met die lekker lang opdraendes tussen Caledon en Riversdal is hier die beste toets vir wringkrag; teen ‘n algemene kruissnelheid van 120 km/h op die pad het die snelheid wel afgeneem tot 100 km/h as die kruin bereik word. Dit wil sê sonder om die Suzi te forseer of om af te rat na vierde om die 120 km/h te handhaaf. Dit is eers in náskou wat ons moes uitvind dat die enjin ‘n gewone viersilinder 1373 cc eenheid is wat 70 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 130 Nm wringkrag teen 4 000 rpm beskikbaar stel.
Ten spyte van die relatiewe hoë toeretal wat die maksimum wringkrag beskikbaar is, is daar vanaf 3 000 meer as genoeg krag beskikbaar om stadiger voertuie met gemak en veiligheid verby te steek.
Die stuur en vering van die Ciaz is goed en ongelyktes in die pad word goed geabsorbeer. Vir jong bestuurders wat die teer om al die draaie wil laat brand, is die Ciaz, wat in die eerste plek ‘n gerieflike en ruim familie-toermotor is, dalk nie die aangewese keuse nie. Die groot pluspunt is egter die uitstekende brandstofverbruik wat verwag kan word. Volgens Suzuki kan ‘n gemiddelde verbruik van 5,5 l/100 km verkry word en kan ons getuig dat die werklike syfer in alledaagse toestand nie veel swaarder is nie. Met ‘n vol tenk brandstof (43 liter) word die reikafstand op die Ciaz as meer as 630 km op die rekenaarskerm aangedui. Met versigtige bestuur, bly die reikafstand baie lank op dieselfde afstand!
Die Indies-vervaardigde Ciaz beskik oor al die noodsaaklike veiligheidseienskappe soos dubbele lugsakke voor met ABS-remme en die voordeel van die veiligheid van afstandsbeheer om die deure te sluit en te ontsluit.
Die Ciaz 1.4 GL is die goedkoopste in die reeks Ciaz-modelle en verkoop teen N$182 500. As in ag geneem word die ruimte, gemak van hantering en verrigting, is hierdie Suzuki ‘n uitstekende koop. Die duurder GLX-handrat verkoop teen N$202 500 en kom met groter 16” allooivellings as die 15” staalwiele van die GL. Die outomatiese weergawe verkoop teen N$217 500.
Diensintervalle vir al die Ciaz modelle is 15 000 km en die word gedek deur ‘n 3-jaar of 60 000 km diensplan; die algemene waarborg geld vir 3-jaar of 100 000 km.
Wie gaan ‘n Ciaz koop?
Ons voorspelling is jong families en ouer persone wat nog bekostigbare toere saam met vriende wil onderneem – soos ons nou gedoen het!