Klein maar “getrain”
Met die herbekendstelling van die klein Suzuki, die Jimny 4×4, ‘n jaar of drie gelede, moes my gedagtes teruggaan na my eerste kennismaking met die Suzuki jeepie by ‘n Suzuki handelaar in Angola in 1973. Ons het slegs die legendariese motorfietse in Suid-Afrika en so ‘n klein broodwaentjie/bakkie.
Wat ek kan onthou van die LJ20, soos hy toe bekend gestaan het, was die feit dat die ratkas en oordra-kas groter as die klein tweeslagenjin was. Ná afloop van die eerste fase van die grensoorlog, het van ons troepe ‘n paar uitgebring en met Nissan 1200 enjins toegerus as deel van die oorlogsbuit!
Hier by 1983 het die SJ410 in Suider-Afrika geland en het CAR tydskrif hom geprys vir sy vertoning in sand; hoofsaaklik vanweë sy lae massa wat deur ‘n 1 000 cc enjin aangedryf was. Hierna het die SJ413 met ‘n 1,3 liter gekom en later nog die Samurai.
Intussen het heelwat water in die see geloop en het die oorspronklike modelle nie net uiterlik meer modern geraak nie maar is die kragbron en suspensie gewysig om tred te hou met die groeiende getal buitelugvoertuie wat al hoe meer ook op gemak toegerus is.
Die Jimny het nou meer bonkig geword en die wielboë huisves 15 duim allooivellings wat die openinge mooi vul. Boonop is die bande 205/70 R15-veelterreinbande wat daarop dui dat hy ‘n ernstige veldvoertuig is en saam met die groot manne kan gesels.
Die noodwiel is ook op die agterdeur gemonteer wat meer spasie binne gee en ook help om hom die hardebaard voorkoms te gee. Uit praktiese ervaring het ek ook geleer dat dit ook as skokbreker dien as daar van agter af in jou vasgery word.
Hoewel die enjin steeds slegs 1 328 cc verplaas, beskik die nuwe een oor veranderlike kleptydreëling met 16 kleppe. Maksimum krag van 63 kW word teen 6 000 r/min ontwikkel en 110 Nm word teen 4 100 r/min beskikbaar gestel. Overgeset synde in praktiese rytoestande, die ratkas moet benut word as daar ‘n sleepwa getrek word. Die troos is darem dat die meeste van die wringkrag reeds teen by 2 500 r/min beskikbaar is.
Suzuki maak ook daarop aanspraak dat brandstofverbruik suinig is en dat daar in die gekombineerde siklus 7,2 liter/100 km verwag kan word hoewel 8,6 miskien meer realisties is. By regte, taai 4×4 voertuie – wat hierdie katelknaap inderdaad ook is – is hierdie goeie waarde per km.
Krag word deur middel van ’n vyfgang-handratkas en ’n oordra-ratkas na die wiele oorgedra. Die 4×4-stelsel word met elektriese skakelaars geaktiveer om tussen agterwielaandrywing, gewone 4×4 en laestrek-4×4 te skakel. Ratverhoudings en aandrywingswyse kan tot en met 100 km/h met die skakelaar verander word.
Soos dit ‘n regte 4×4 veldvoertuig betaam, word daar steeds ‘n normale onderstel gebruik met spiraalvere en gasgevulde skokbrekers met goeie artikulasie sodat die aste vryelik kan op en af beweeg om altyd wiele op die grond te hou. Dan is daar ook die groot voordeel van ‘n kort-as voertuig; ‘n uitmuntende draaisirkel van 9,8 meter. As die olifant in die wildtuin storm, kan die bestuurder veilig ‘n vinnige U-draai maak!
Die Suzuki se invalshoek is 37 grade en die vertrekhoek 46 grade; handig by rivieroorgange sonder brûe. Sy oorbreekhoek is 31 grade. Saam sorg dié kenmerke vir veldrytalent wat op hierdie prysvlak sonder weerga is. Verder dra ABS-remme by tot algehele veiligheid op die pad en is die lugsakke voor baie gerusstellend.
Volgens die vervaardiger kan die klein Suzuki van 0 tot 100 km/h in 14,1 sekondes versnel, terwyl die naald by 140 km/h sal draai.
Die Jimny is goed toegerus vir gemaklike bestuur; binne is elektries-beheerde ruite, sentrale sluiting, lugreëling, kragstuur en elektries-verstelbare buitespieëls. Vir sy grootte (en prys) is hy ook besonder ruim met ‘n bagasieruimte van 324 liter wat tot by dakhoogte 816 liter beloop.
Die Suzuki Jimny word deur die sogenaamde Suzuki Complete-pakket gerugsteun. Dit kombineer die waarborg, diensplan en padbystanddiens in ’n enkele, waardetoegevoegde pakket waaruit die klant groot voordeel trek. Hy ook gerugsteun met ’n waarborg van drie jaar/100 000 km en ’n diensplan van vier jaar/60 000km asook ’n drie-jaar AA-padbystanddiens.
Voordat jy die Jimny Richtersveld toe kan neem, sal jy eers N$184 900 moet betaal.