Botoks-verjongingskúúr, plus steroïde!
Kyk vinnig na die nuwe Toyota Corolla, so skuins van voor, en die kans is goed dat jy hom kan verwar met ‘n klein Mercedes! Dit is soos ons beste-verkoper familiesedan deesdae lyk.
Die jongste verjongingskúúr wat hy so pas ondergaan het, beklemtoon die nuwe “lae en wye” ontwerp soos Toyota dit noem. Van vóór gesien is daar die nuwe skerper onderpunt van die hooflig wat opval, so ook die breër buffer en die meer fors sierrooster met chroom insetsels. En langs die kant is daar nou ook die flikkerligte wat deel uitmaak van die buitespieëls en een van die belangrike veiligheidseienskappe is wat help om ongelukke minder te maak omdat die bestuurder van die Toyota se voornemens duidelik aan ander gesein word.
Dieselfde fors indruk is ook agter te sien waar die rem- en agterligte nou ook breër is en makliker sigbaar is. En terwyl ons by die uiterlike eienskappe van die nuwe Corolla is, kan die nuwe kleure waarin hulle kom, ook genoem word: goudkleurige glinstermetaal, middernag-blou en grafietgrys metaalkleur; almal kleure wat met Europese motors geassosieer word wat dubbeld die prys van die Corolla is.
Die indruk word dus gewek dat die nuwe Corolla groter en sterker is as van sy voorgangers. Dit is natuurlik ook reg want onder die enjinkap is daar nou ook ‘n tweeliter petrol kragbron.
Die nuwe 2,0 liter petrolenjin is die reeks se vlagskip met sy 16 kleppe, elektroniese brandstofinspuiting, dubbele VVT-i en dubbele bo-nokaste. Teen 5 600 rpm ontwikkel hy 102 kW en stel ‘n stewige 189 Nm teen 4 400 rpm beskikbaar. Dit, saam met die 6-gang handrat-aandrywing stel hom in staat om ’n maksimum van 200 km/h te bereik.
Dit geld vir beide die handrat en die modelle met outomatiese ratkaste in. Omdat die maksimum wringkrag teen relatief hoë enjinsnelheid bereik word, moet die ratkierie vryelik gebruik word om hom soos ‘n renperd te laat hardloop. Maar om die kierie te gebruik is in elke geval pure plesier! Die outomatiese ratkas beskik oor vier gange en oorskakeling vind glad plaas sonder rukbewegings.
Ander kragbronne vir die nuwe-voorkoms Corolla sluit in die 1,3 Optimal Drive viersilinder petrolenjin met dubbele wisselende klepreëling (Dubbele VVT-i) en brandstofinspuiting wat die krag van ‘n 1,4 liter enjin oplewer. Die verrigtingsyfers is 74 kW teen 6 000 rpm en 132 Nm wringkrag teen 3 800 rpm. Dit stel hom in staat om 180 km/h te behaal.
Die tussen-in model is die 1,6 liter 16-klep petrolenjin wat ook van VVT-i tegnologie gebruik maak om 90 kW teen 6 000 rpm te ontwikkel en 154 Nm teen 5 200 rpm vry te stel. ’n Topsnelheid van 193 km/h kan met hom behaal word en hy is ook met die viergang outomatiese ratkas beskikbaar.
Die turbodiesel weergawe van die Corolla sal later vanjaar sy verskyning op die mark maak. Hierdie viersilinder benut die voordele van die drukbuis piezo-inspuitstelsel, laegewig- en lae-wrywingskomponente en turbo-aanjaging om 93 kW teen 3 600 rpm op te lewer en 300 Nm wringkrag tussen 1 800 rpm en 2 400 rpm te lewer.
Die suspensie is ‘n baie goeie kompromie tussen sportiewe hantering en gemak; die vering is soepel genoeg om sinkplaatpad goed te hanteer sonder om stamperig te wees. Die paaie waarop die Corolla sy litte losgemaak het om die joernaliste ‘n oordeel oor die nuweling te laat vel, was verteenwoordigend van ons paaie-stelsel. Die hoë bougehalte van die Corollas is op die rowwe grondpaaie getoets en het hy sy man gestaan.
Die “intreemodel” 1.3 Corolla Impact is ordentlik toegerus “luukses” soos ’n sesganghandratkas, lugversorging, deurslotte wat self sluit as die motor ry, ’n radio/CD speler met volle iPod, USB en MP3 aanpasbaarheid, twee lugsakke, sluitwerende remme (ABS) met elektroniese remkragverdeling (ABD) en remhulp (BAS) en ’n hooggeplaasde LED-remlig.
Wat my beïndruk het, was die stuurwiel wat beide horisontaal en vertikaal verstelbaar is en dat die voorste vensters elektries verstel kan word. Soos die spesifikasievlak styg, kom daar meer luukses as standaardtoerusting by (Advanced- en Exclusive modelle) om hulle op dieselfde vlak te bring as die van die Duitsers. (Wie het nou weer gesê dat Toyota die Japannese woord vir Mercedes is?).
Die Corolla reeks bied geldgewys en toerustinggewys ‘n wye verskeidenheid modelle wat elke sak en behoefte vir ‘n middelslagmotor kan bevredig; die pryse wissel tussen N$177 700 vir die 1,3 Impact tot N$282 000 vir die 2,0 D-4D Exclusive met die kragtigste enjin en amper onmoontlik-lange lys van luukshede teen N$282 000. Vir die toerustingvlakke van die individuele modelle is dit die moeite werd om ‘n draai by die handelaars te gaan maak.
Alle Corollas word met ’n driejaar / 100 000 km waarborg en ’n vyfjaar / 90 000 km diensplan verkoop. Hulle word ook ondersteun deur die 24 uur ToyotaCare Padbystandsdiens.
Corolla Pryse
- 1.3 Impact N$177,700
- 1.3 Professional N$185,800
- 1.3 Advanced N$201,800
- 1.6 Professional N$207,400
- 1.6 Advanced N$222,800
- 1.6 Advanced 4 O/T N$233,300
- 2.0 Exclusive sonder VSC N$258,500
- 2.0 Exclusive 4 O/T sonder VSC N$268,800
- 2.0 Exclusive met VSC N$262,900
- 2.0 Exclusive 4 O/T met VSC N$273,200
- 2.0D Advanced N$253,500
- 2.0D Exclusive N$282,000
26 Julie 2010