“Ek wou nog altyd seil, maar my vrees vir water oorweldig my!”
Sedert Toyota se Fortuner model in 2005 bekend gestel is, het hierdie voertuig as die mees suksesvolle 4×4 familie-voertuig bekend gestaan. Ontwerp om ‘n tussenganger van die destydse Condor en die Prado modelle te wees, het hierdie voertuig ‘n relatief goedkoper opsie aan die koper gebied. Dit sou ook op die Hilux DNA ontwerp word en uiteraard ook dieselfde karaktereienskappe bevat.
Gedurende 2009, 2011 en 2013 het die Fortuner model etlike “botox” sessies ondergaan, elke keer gebaseer op die toe Hilux weergawes. Die enigste ander veranderinge was die 2.5 Hilux dieselenjin gedurende 2011 en klein binneruimveranderinge in 2013. Die prys gedurende hierdie tydperk het egter relatief laag gebly; ‘n groot bydraende faktor tot hierdie model se sukses.
Bo: Die 2005 Toyota Fortuner
Bo: Die 2009 Toyota Fortuner
Bo: Die 2011 Toyota Fortuner
Bo: Die 2013 Toyota Fortuner
Bo: Die 2015/16 Toyota Fortuner
Die 2015/16 model bring iets anders na hierdie Fortuner reeks; iets veel meer as net ‘n vinnige “botox” sessie. In plaas daarvan om ‘n gewone, allerdaagse kar te wees wat jy gerieflik deur die modder kan sleep op ‘n Saterdag, het hierdie model ‘n meer eksklusiewe kant. Dit het dieselfde karaktereienskappe van die vorige Prado model. Die belangrikste vraag dan natuurlik was om uit te vind of hierdie opgraderings die Fortuner ongerieflik naby aan die Prado se prysklas sal bring? Is hierdie veranderinge dalk te veel en neem dit die karakter van die Fortuner weg?
Eerstens kan ons begin deur om te sê dat hierdie model glad nie meer so streng die Hilux basis volg nie. Dit volg eerder meer die voorkoms van die nuwe Corolla model, met dun en aggressiewe LED- (liguitstralende diode) hoofligte sowel as haak-vormige ‘daglig-ryligte’.
Alhoewel dit dieselfde onderstel, ratkas en enjinreeks (2,7L en 4,0L petrol sowel as die 2,4L, 2,8L en 3.0L diesel) as die huidige Hilux deel, is hierdie model totaal anders as die hard-geveerde bakkie modelle, waarvan een verskil natuurlik die binneruim is.
Bo: 2016 Toyota Hilux binneruim
Bo: 2016 Toyota Fortuner binneruim
In die binneruim het Toyota ‘n baie eksklusiewe baadjie aangetrek. Houtafwerking aan die bopunt van die stuurwiel sowel as langs die rathefboom; leerbekleedsel langs die LCD skerm, en die armstutte; volle beheer vanaf die stuurwiel, sowel as ‘n hoë gemonteerde LCD skerm, gee die bestuurder die gemak om luuks te sit met hul oë meestal op die pad gefokus.
Daar is ruimte vir ‘n maksimum van 7 mense in hierdie kar, met die opsie om ‘n derde ry sitplekke in die agterkant te laat platvou. Vir die passasiers in die tweede ry is daar ook nog aparte beheer oor die lugversorging en met enige rit sal jy gemaklik aan die slaap kan raak.
Die voertuig se reusagtige voorkoms leen hom tot blindekolle, maar nie soveel soos baie ander voertuie in dieselfde klas nie. ‘n Gerieflike nuwe insetsel is natuurlik ook die kamera wat outomaties geaktiveer word sodra jy die voertuig in trurat plaas.
Ons het die 2.8L, 6-spoed handrat-weergawe (132kW teen 3,400opm en 420Nm tussen 1,400-2,600opm) bestuur. Oor padlawaai en enjin geraas is daar nie iets te sê nie, omdat daar niks is nie. Die enigste tye wanneer jy herinner word aan die enjin, is wanneer jy in eerste rat ry of die regterpedaal bietjie horisontaal verstel en bo 3,000opm gaan. Dit sal egter net die sagte dreun van die diesel-motor wees en sal jy saggies met jou passasiers fluistertaal kan praat.
Sit die motor in 6de rat en jy sal elke tien minute jouself moet herinner dat jy teen 120km/h en teen 1,900opm op ‘n snelweg bestuur. Weens die rustige natuur en vermoëns van hierdie kleiner enjin, het die Fortuner se ritrekenaar ‘n algehele brandstof verbruik van 9,3L/100km aangetoon, ten spite daarvan dat ons meestal in die dorp rondgery het.
Die derde ry sitplekke in hierdie voertuig is as ‘n negatiewe punt ervaar. Teensy jou 6de en 7de passasier die lengte van Tyrion Lannaster (vir Game of Thrones aanhangers) is, sal dit nie aanbeveel word om enigiemand hier agter te plaas nie. Die tekort aan beenspasie asook kopspasie sal enige 14+ jarige, kritieke skoliose gee. Dus sal ek persoonlik die agterste ry sitplekke verwyder en die spasie benut om eerder ‘n volgroeide kersboom in te vervoer.
‘n Tweede en ietwat irrelevante negatiewe punt is die gladde houtafwerking aan die bo-punt van die stuurwiel. Dit bied definitief ‘n baie kunstige indruk, maar kan ‘n probleem raak indien die bestuurder se hand enigsins nat is.
Die nuwe Fortuner het my aan ‘n onlangse toer deur Namibië in ‘n 2014 Land Cruiser Prado herinner. Dit voel groot, maar veilig en stabiel op enige grondoppervlak en sal die bestuurder, sowel as die passasiers, ten alle tye veilig laat voel.
Teen N$571,400, is hierdie 2.8 GD-6 4×4 handrat wel duurder as sy voorgangers, maar steeds presies die helfte van die prys van ‘n splinternuwe Land Cruiser Prado. Hierdie was nog altyd die geval gedurende die afgelope 11 jaar, maar met só ‘n groot verandering in ontwerp, sal jy baie meer kry as waarvoor jy betaal.
Die Fortuner bied voorwaar die eksklusiwiteit van die Prado, ‘n groot stap weg van die kritiek wat op die vorige modelle gelewer is.
Finale indruk: Indien jy nog altyd ‘n seilboot wou besit, maar te bang is vir die diep waters, en ook om konstante onderhoudsuitgawes aan te gaan, koop eerder die nuwe Fortuner. Dit sal jou die gemak van ‘n seilboot bied en met ‘n kleiner brandstof- en onderhoudsuitgawe (net omdat dit ‘n betroubare Toyota is) sal dit jou minder finansiële stres gee. Toyota het voorwaar ‘n voorwaartse stap met die nuwe Fortuner geneem.