Padtoets: Suzuki Vitara GL

Prettigheid teen ‘n bekostigbare prys!

Met die grysheid kom die wysheid! Een van hierdie wyshede is dat groter lank al nie meer beter is nie, dis net hier en daar waar ‘n ryk  Amerikaner dit nog werklik glo. Of, ongelukkig, party van ons landgenote ook!

Ek was nog relatief jonk toe ek die eerste keer ‘n Suzuki J-reeks jeep in Angola in ‘n vertoonvenster gesien het en onder die enjinkap geloer het; die tweesilinderenjin was inderdaad kleiner as die ratkas en laestrekratkas. Eers ‘n hele paar jaar later, hier om en by 1983, het die eerste viersilinder Suzuki-jeep sy opwagting by ons gemaak – kort op die hakke van die piepklein “broodjie” paneelwa en bakkie.

Suzuki se klein viertrek het dadelik goed verkoop, veral nadat CAR-tydskrif hom deeglik onder hande geneem het en verstom was oor sy goeie hantering in sand – hoofsaaklik vanweë die lae voertuigmassa wat maar vlakkerige spore in die los sand getrap het. Natuurlik was die verkope ook goed vanweë die Suzuki motorfietse se verrigting op die land se renbane. Sukses lei tot sukses.

Nadat General Motors van Suid-Afrika en Suzuki se paaie geskei het, het die Japannese vervaardiger met mening ingeklim en het die een nuwe model op die ander hul opwagting hier gemaak en het ons al heelwat oor sommige van hierdie modelle geskryf. Nou het ons die veelsydige Vitara onder hande gehad.

Aangename verrassing!

Soos dit met sport-nutsvoertuie gaan is dit ongelukkig so dat die jongste mode dikteer. Op hierdie gebied is die Vitara byderwets en hou hy kers vas by die nuutste ontwerpe sonder om – soos sommige dúúr masjiene – bespotlik te raak. Kom ons noem dit ‘n moderne maar gesofistikeerde ontwerp.

Die Vitara is in verskeie weergawes beskikbaar en ons toetsmotor was die intree GL-model. Intree of te not, die GL het beïndruk met al die toerusting en eienskappe wat hier aangetref word. Om maar enkele praktiese dinge te noem is die klankstelsel wat ook BlouTand insluit en beteken dat jy op jou selfoon kan praat sonder om met die onmisbare apparaatjie teen jou oor te sit – en in die Kaap beteken dit dat die verkeerspolisie hom nie sal konfiskeer nie. (Verbeel ek my of is daar meer vrouens as mans wat hulle aan hierdie sonde skuldig maak?).

Boonop kan die volume ook van die stuurwiel verstel word wat handig is en ook ‘n veiligheidsmaatreël is wat dikwels onderskat word. Veral handig is die stuur wat beide vir hoogte en afstand verstelbaar is en vir enige moontlike lyf en bouvorm voorsiening maak om die ideale bestuursposisie te kry. Ook hierdie is ‘n veiligheidseienskap. Verder is daar elektriese ruite voor om die bestuurder se lewe makliker te maak. Al wat kort, maar op die duurder modelle standaardtoerusting is, is outomatiese lugreëling en spoedbeheer.

Al die Vitara-modelle word aangedryf deur ‘n viersilinder sestien-klep 1.6-liter enjin wat 86 kW teen 6 000 rpm ontwikkel en 151 Nm teen 4 400 rpm vrystel. Laasgenoemde eienskap beteken natuurlik dat die enjin se toere effens gedruk moet word om hom te laat spring. Die vyfgang-ratkas maak die oorskakel van ratte egter ‘n plesierigheid. (En vir ons ouer bestuurders is daar darem ook ‘n sesgang-outomatiese ratkas beskikbaar, maar weereens moet ‘n man ‘n paar rand uithaal vir hierdie gemaklike manier van ry).

Hy versnel in net minder as 11 sekondes van 0-100 km/h en die naald sal op 180 km/h gaan draai as hy genoeg aangemoedig word. Suzuki beweer dat ‘n algehele gemiddelde brandstofverbruik van net onder 6 l/100 km haalbaar is. Maar kom ons maak dit maar ‘n gelukkige sewe.

Danksy ‘n goeie grondvryhoogte van 185 mm kan grondpaaie met vrymoedigheid aangepak word met sy 16 duim wiele wat die rit genoeg “kussing”.

‘n Groot pluspunt wat veiligheid op die pad verseker is die ABS/ESP-stelsel wat help om aktiewe beheer te behou as die bestuurder homself in ‘n draai effens oorskat het. Hierdie stelsel verrig wondere en sal verseker help dat onervare bestuurders nie in ‘n sloot langs die pad beland nie; dis nou te sê as hy/sy nie heeltemal oorboord gegaan het nie; daar is immers wette van die fisika wat nie verander kan word nie.

Die Vitara sit goed op die pad danksy sy McPherson voorsuspensie en die gebruik van wringstawe en spiraalvere agter. Teen hoë spoed en om draaie is hy stabiel en windweerstand is minimaal, ten spyte van sy effens hoë voorkoms en dus meer windweerstand.

Teen N$249 900 is die basiese intreemodel Vitara goeie waarde vir geld. Om nog meer toerusting soos afdraandhulpbeheer, of 16” of 17” allooivellings te hê, opdraand rembeheer en die handige 12 volt sok agter in die bagasiebak vir die klein yskassie, sal daar na die duurder GLX-modelle gekyk moet word.

Hoewel die GL slegs ‘n tweewieltrek is waar die krag op die voorwiele oorgedra word, is daar ook die 4×4 “Allgrip” modelle met handratskakeling beskikbaar. Die duurste in hierdie reeks, wat oor elke moontlike “ekstra” as standaardtoerusting beskik, gaan draai die prys by N$315 900.

Maar dan het jy alles.

Alle Vitara’s word gedek deur ‘n 4 jaar/60 000 km diensplan.

Wie gaan hom waarskynlik koop? Avontuurlike jongmense, klein families en mense wat weens ouderdom hulle laaste salaristjek ontvang het en die paaie van hulle jeug weer wil gaan ry – wat gewoonlik grondpaaie is!

Leave a Comment