Padtoets: Volkswagen Kombi T5

Prakties en Uitbundigheid

Dit was Volkswagen wat die naam “Kombi” ‘n huishoudelike woord gemaak het toe hulle die eerste generasie bussie in 1956 in Uitenhage begin bou het en teen £674 verkoop het; £105 méér as wat die Kewer se prys was.

Die eerste klompie Kombi’s was almal blou geverf – behalwe vir ‘n klompie ambulanse wat die destydse Unie Verdedigingsmag bestel het en wat olyfgroen was met wit dakke waarop ‘n rooi kruis geskilder was.

Hierdie T1-Bussies was Spartaans afgewerk maar het vir die tyd ‘n wonderlike verwarmer gehad toe so-iets net by die heel duurste motors ‘n opsie was. Maar ‘n jaar of twee later het die VW Westphalia kampeerbus en die De Luxe model (of Samba) met die talle klein ruitjies en sondak ook hulle opwagting gemaak; direk ingevoer uit Duitsland. Hierdie manne is vandag almal versamelstukke.

Intussen het die T2, T3 en T4-reekse gekom en gegaan en ‘n paar jaar gelede het die T5 sy opwagting by ons gemaak. Soos die Westphalia en Samba, word alle Volkswagen karwyers almal direk ingevoer.

Die jongste weergawes van die T5-reeks, wat nou ook bakkies insluit, het in April ‘n paar belangrike veranderinge ondergaan met stilering vóór wat die nuwe VW korporatiewe voorkant naboots. Maar die belangrikste veranderings is onder die enjinkap geleë waar ‘n nuwe-generasie 2-liter turbodiesel diens doen. En soos vroeër, is daar weer ‘n basiese (Kombi) model en ‘n luukse Caravelle.

Die 1 968 cc dieselenjin is die basis van die drie variante wat met behulp van turbo-aanjaging verskillende kragvrystellings het, naamlik 75, 103 of 132 kW. In die geval van die laaste model word die verrigting bereik deur die gebruik van twee-fase beheerde turbo-aanjaging. Alle enjins maak gebruik van enkelbuis, veelvuldige diesel-inspuiting.

Met hierdie uitmuntende kraglewering van die viersilinder-enjins, is daar weg gedoen met die VW 5-silinder enjin; die kleintjie werk net so goed soos die vorige grootman en gebruik in die proses heelwat minder brandstof – en laat ook minder skadelike stowwe uit as sy voorganger.

Die “baba” 75 kW enjin lewer ‘n uitstekende wringkragkurwe en daar is 250 Nm beskikbaar teen 1 500 rpm wat behou word tot en met 2 500 rpm. Die volgende model, wat krag betref, is die 103 kW weergawe wat 340 Nm vrystel teen 2 000 rpm en hierdie wringkrag onveranderd tot by 2 500 rpm lewer. Vermoedelik is hierdie kragvermeerdering toe te skryf aan die gebruik van ‘n gevorderde elektroniese beheerstelsel (“chip”). Dit stel hom in staat om binne 12,2 sekondes tot by 100 km/h te versnel met ‘n maksimum spoed van 173 km/h. Brandstofverbruik in die algemene siklus is  7,4 l/100 km.

Die bulletjie T5 met die 132 kW enjin ontwikkel sy maksimum krag teen 4 000 rpm en stel met sy dubbele turbo ‘n amper gevaarlike 400 Nm teen 1 500 rpm vry. Volgens Volkswagen stel dit hom in staat om 0-100 km/h in 10,3 sekondes te versnel en by 191 km/h te gaan draai. Blitsperd!

Die heel belangrikste eienskap van die nuwe T5-reeks voertuie lê egter in hulle veiligheidstoerusting omdat elektroniese stabiliteitstelsels op al die T5 voertuie voorkom; ook die bakkies en paneelwaens. Hierdeur word stuurtraagheid of oor-ywerigheid teengewerk en neem die stelsel oor waar die bestuurders hulle self in situasies laat beland het wat hulle nie voorsien het nie. Hierdie stelsel, in samewerking met ABS-remme, gee die eienaars van T5 voertuie die ekstra vertroue wat by die goedkoper mededingers skort.

Die T5 Caravelle is ook met vierwielaandrywing beskikbaar en word en die koper het ‘n keuse tussen ‘n sesgang handratkas (soos die res van die reeks) of ‘n 7-gang outomatiese palwisselstelsel (DSG).

Nog ‘n belangrike nuwe eienskap by die Kombi is dat hy ook in kort of langer weergawes beskikbaar is wat by die behoeftes van die koper pas; hoe langer die asafstand, hoe meer pakplek of bagasieruimte.

Sedert die bekendstelling van die eerste Kombi in Suid-Afrika in 1956 het die pryse effens gestyg. Die basiese TDI kortafstand kos nou N$408 400 en die warm Caravelle met sy twee turbos’s ‘n koel N$537 800.  En die 4MOTION vierwieltrek kos N$585 800. Die suiker op die pil is egter dat hy kom met ‘n 5-jaar of 60 000 AutoMotion onderhoudsplan wat uitgawes onder beheer bring en gemoedsrus gee. In elk geval is die koop van ‘n Kombi gewoonlik ‘n langtermyn verhouding tussen eienaar en voertuig – wat natuurlik sleg is vir die algemene motormark!

Leave a Comment