Lang bene vir die langpad
Toyota se nuwe Auris X-reeks is al so ‘n rukkie tevore bekend gestel. Nou onlangs het ons die XD-model in die reeks getoets en is vol lofgesange vir die “nuwe” Japanner wat ‘n paar nuwe eienskappe het wat hom van sy voorganger onderskei: Dinge soos ‘n nuwe enjinkap, flikkerligte in die syspieël, voorbuffer en sierrooster en hoofligte wat hom ‘n breëbors laat lyk.
Die Toyota Auris is al ‘n hele tydjie met ons en het ons gewoond geraak aan die sportiewe voorkoms en uitstekende padgedrag. Maar Toyota het hom oor die afgelope dekade bewys as dié vervaardiger wat ‘n leidende rol speel om omgewingsvriendelike voertuie te bou. Die gewildheid van die hibriede modelle, waar petrolenjins in kombinasie met elektriese krageenhede gebruik word, getuig hiervan. Gaan kyk maar hoeveel Prius-modelle daar in Kalifornië op die pad is. En elke Hollywood ster wat polities korrek en in tel wil wees, ry een.
Die “X” wat op die bakwerk van die XD agter aangebring is beteken nie dat dit ‘n oorkruis of vierwielaandrywing model is nie maar dui op ‘n “groen” enjin onder die enjinkap.
Die kroonprins van die reeks is die 2 liter D-4D-enjin met ‘n verplasing van 1 998 cc wat nou 93 kW ontwikkel teen ‘n baie rustige 3 600 rpm – wat ‘n lang enjinlewe gaan beteken. Dan is daar ook ‘n indrukwekkende 310 Nm wringkrag beskikbaar teen slegs 1 800 rpm. Die wringkrag is ook heelwat hoër as sy voorganger. Maar die mooi ding van die Xd is die feit dat, anders as talle ander ligte diesels, daar bruikbare krag beskikbaar is van so laag as 1 200 rpm wat hom by uitstek ook ‘n lui man se motor maak! Maar spring kan hy ook spring as daar afgerat word en die volle wringkrag en perdekrag gebruik word.
Die krag word na die voorwiele oorgedra deur ‘n nuwe sesganghandratkas. En dit is hier waar die lang bene vir die langpad inkom. Teen net meer as luierspoed – so teen 1 800 – 1 900 rpm wil-wil die knaap die wettige maskimum snelheid op ons hoofpaaie oorskry. Ons het nie die brandstofverbruik van hierdie middelklasgrootte Toyota getoets nie, maar dit lyk of dit die soort motor is wat op sy beste gaan vertoon op ‘n regte langpad soos Kaapstad-Ovamboland of Kaapstad na die Zimbabwiese grens. En nog heelwat verder noord. Teen hoë snelheid, en ‘n lae sleursyfer en hoë ratverhouding, gaan hy by uitstek suinig wees en kan hy dwarsdeur Zimbabwe hardloop sonder om vir brandstof te stop.
Die Auris XD is ten spyte van sy suinigheid nie ‘n luiaard nie; hy versnel van 0-100 km/h in net ‘n rapsie oor 10 sekondes en laat die naald draai by méér as 190 km/h. En met versigtig ry gaan hy tussen 5 tot 6,5 liter per 100 km gebruik; dit word alleen bepaal deur die bestuurder en sy gewoontes. (Die aanbring van nuwe lugvloei-panele onder die bak help ook om brandstofverbruik laer te maak).
Die Auris Xd is goed toegerus en kom uit met ‘n volgrootte spaarwiel, syspieëls wat elektries verstel word, sentrale sluiting, RDS-radio/CD-kombinasie met ses luidsprekers en ook Bluetooth. En vanselfsprekend is daar ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en rem-ondersteuning asook lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier en ook gordynlugsakke langs die kant. Die bestuurder se knieë word ook deur ‘n lugsak beskerm. Dan is daar natuurlik ook die 16” allooiwiele wat die “ekstra” aan die Aurus Xd se voorkoms gee.
Lugreëling en elektries aangedrewe kragstuur is standaardtoerusting asook ruitveërs wat druppels water op die ruitskerm “raaksien” en outomaties aan die gang kom, so ook die ligte wat self kan aanskakel as die sig swak word. Verder is daar outomatiese klimaatbeheer – wat véél meer is as blote lugreëling wat net warm of koud maak.
Eintlik wou ek ook iets negatiefs oor die Auris XD (eintlik is dit XD geskryf) sê maar kon eerlikwaar nie aan iets dink nie; ‘n mens wil tog ewewigtigheid aan die dag lê. Maar miskien is dit die moeite werd om daarop te wys dat diesels wel suiniger is met brandstof maar dat onderhoud op die lange duur miskien duurder gaan kos. Maar die diensafstande vir beide diesel en petrolmodelle is 15 000 km. Goeie nuus is die diensplan van vyf jaar of 90 000 km wat by die prys ingesluit is. En as die prys van die XD N$268 800 aan die hoë kant is, is die intreemodel van die gewone “X” N$199 900.