Die Nuwe Gesig van ‘n Wenner
In Suid-Afrika en Namibië is die mark vir een ton bakkies ‘n baie belangrike en hoogs kompeterende mark. Toyota se Hilux , waarvan die bakvorm nou al van 2005 kom, is nou al reeds ‘n hele aantal jare die top verkoper in hierdie mark…
Maar met die koms van die VW Amarok, wat reeds goed verkoop en die nuwe Ford Ranger wat binnekort hier sal wees, het Toyota gesorg dat hulle die voorsprong wil handhaaf met ‘n nuwe voorkoms vir die Hilux sonder om aan die beproefde resep as ‘n taai werkesel te torring.
Die nuwe, uitgebreide reeks behels nou 21 verskillende weergawes, wat bestaan uit nege enkelkajuit-modelle, drie Xtra Cab-modelle (teenoor die vorige twee weergawes) en nege dubbelkajuit-modelle. Dit is een minder as die Isuzu KB reeks (22), wat die naas beste verkoper is, maar is meer as sy ander mededingers. Daarbenewens bied die reeks ook die keuse van vyf verskillende enjins, twee dryfstelsels en twee verskillende transmissies.
Daar is ‘n twee vier silinder petrol (2,0 liter en 2,7 liter) enjin, twee diesel enjins (2,5 liter en 3,0 liter) en die 4,0 liter V6 petrol enjin. Al die enjins is net so oor gedra van die vorige reeks Hilux bakkies. Dit beteken dat die enjins bekend en beproef is en ook dat, wat die diesels betref, diesel met die hoër swael inhoud (500ppm) gebruik kan word – ook dus vir die wat verder as die grense van Suidwes wil rondry.
Vanaf die voorruit vorentoe is die ontwerp heeltemal nuut. Die hoofligte, wat nou meer vierkantig is en effe uitstaan, die enjinkap met ‘n nuwe bult vir die turbo en die voorste stamper is alles herontwerp. Maar die belangrikste waarneembare verandering in voorkoms is die nuwe sierrooster. Dit is nou drie donker plastiek stawe met chroom afwerking bo en aan die kante. Hy lyk nou meer na sy groter broer, die Landcruiser VX. Agter is die ligte herontwerp en al die SRX- en Raider-modelle het nou ook ’n derde remlig agter in die middel van die stertdeur.
‘n Verdere belangrike verandering is die groter 17” wiele met laer profiel bande aan die topmodel Raider met dubbelkajuit. Alhoewel ons nie die kans gehad om die Hilux teen hoër snelhede te toets nie, behoort die 265/65 R17 bande ‘n beter paghou vermoë en veiliger rit op teerpaaie te gee. Die 3.0 D-4D- en 4.0 V6-modelle het ook voertuigstabilitietsbeheer (VSC) om die noodremhulp en elektroniese remkragverdeling aan te vul.
Binne in die kajuit het dit nou meer die gevoel van ‘n passasiersmotor. Dit het ‘n nuwe voorpaneel met ‘n splinternuwe middel konsole van plastiek met ‘n aluminium voorkoms. Sommige kopers mag dit effe aan die blink kant vind en op die bekendstellingsrit het dit soms gepla wanneer die son daarop weerkaats. Andersins is die instrumentepaneel ‘n verbetering op sy voorganger.
Die nuwe klankstelsel wat ook RDS-werking het, het ’n ingeboude CD-speler, ingeboude verbinding vir ’n iPod en ’n USB-sok. Die stelsel sal jou iPod se kunstenaar-, liedjie- en musiektitellys, sowel as telefoonnommers via die Bluetooth-selfoonverbinding en radiostasies op ’n kleurskerm vertoon.
Op die bekendstellingsrit net buite Bloemfontein op De Brug het ons die kans gehad om die dubbelkajuit 3.0 liter diesel 4×4 op redelike slegte roetes te bestuur. Hier het die Hilux tot sy reg gekom. Die 4×4 model het die moeilike terrein baie maklik hanteer. Dit het nog ‘n kort hefboom om die 4×4 modus en lae strek opsies te kies. Die weergawe met outomatiese transmissie maak dit nog makliker in veldry toestande. Al is daar ander bakkies wat meer krag het, het die Hilux voldoende krag en het glad nie gesukkel in enige omstandighede nie. Die bougehalte is baie goed soos mens aan Toyota gewoond geraak het en daar was nêrens ‘n gerammel nie.
Die petrol enjins is ‘n 2 liter wat 100kW en 182Nm lewer en ‘n 2,7 liter met 118kW en 241Nm, Die twee diesel enjins lewer 75kW en 260Nm (2,5 liter) en 120kW en 343Nm (3,0 liter) onderskeidelik. Die 4,0 liter petrol enjin is die sterkste en duurste met 175kW en 376Nm. Vir die dubbelkajuit modelle gee Toyota die brandstofverbruik aan as 9,7l/100km vir die 3,0 liter enjin en 12,0l/100km vir die 4,0 liter V6 enjin.
Al die Hilux-modelle word met ’n fabriekswaarborg van 3 jaar / 100 000 km en ’n diensplan van 5 jaar / 90 000 km verkoop.
Pryse:
Augustus 2011
Petrol Enkelkajuit
Hilux 2.0 VVTi N$170 700
Hilux 2.0 VVTi S N$176 000
Hilux 2.7 VVTi RB Raider N$246 200
Diesel Enkelkajuit
Hilux 2.5 D-4D N$196 800
Hilux 2.5 D-4D S N$201 700
Hilux 2.5 D-4D 4X4 SRX N$287 900
Hilux 2.5 D-4D RB SRX N$239 900
Hilux 3.0 D-4D 4X4 Raider N$331 700
Hilux 3.0 D-4D RB Raider N$283 800
Petrol Dubbelkajuit
Hilux 4.0 V6 4X4 Raider OT N$433 100
Hilux 2.7 VVTi RB Raider N$309 200
Hilux 4.0 V6 RB Raider OT N$363 000
Diesel Dubbelkajuit
Hilux 3.0 D-4D 4X4 Raider N$404 700
Hilux 3.0 D-4D 4X4 Raider OT N$416 300
Hilux 2.5 D-4D RB Raider N$328 100
Hilux 3.0 D-4D RB Raider N$355 800
Hilux 3.0 D-4D RB Raider OT RN$367 600
Hilux 2.5 D-4D 4X4 SRX N$333 800