Mahindra se nuutste sportsnuts, die XUV300
In die passasiersmotormark in Suid-Afrika wat tans maar traag is, is die segment vir die kleiner gesinsmotor die enigste een wat groei toon. Hierdie nuwe produk van Mahindra is duidelik vir die mark bedoel. Dit word die XUV300 (drie dubbel nul) genoem en pas mooi in tussen sy twee familielede, die klein KUV100 en die groter XUV500.
Die reeks bestaan uit vier weergawes, wat twee enjins en twee spesifikasievlakke, nl die W6 en die W8 insluit. Die twee enjins is ‘n turbo-petrol van 1,2 liter (81kW en 200Nm wringkrag) en ‘n 1,5 liter turbo-diesel (86kW en 300Nm). Hierdie twee enins is spesifiek vir die XUV300 ontwikkel en weeg baie goed op teen die mededingers. Slegs die handratkas van 6-spoed is in al vier weergawes van die XUV300 beskikbaar.
Suid(elike) Afrika is die eerste mark buite Indië waar die XUV300 te koop is.
Die pryse wissel van R249,999 vir die model met die petrol enjin (W6) tot R324,999 vir die duurste (W8) diesel weergawe. In hierdie prysklas ding hy mee met die twee Renaults, die Duster en die Captur, asook die Ford EcoSport en Hyundai Creta (wat effe duurder is).
Die XUV300 is ‘n kompakte SNV met voorwiel-aandrywing. Wat uitstaan in die ontwerp is die prominente sierrooster met opmerklike dagryligte voor en wye LED agterligte. Die dak het die kar se kleur maar die pilare is swart – ‘n sg. swewende dak. Dit alles saam met die mooi gesnyde wielvellings laat die XUV uitstaan tussen sy mededingers.
Die binnewerking en toerusting is goeie gehalte.
Die ligte kleur van die sitplekke van kunsleer is nie juis prakties nie, maar sit gemaklik en gee goeie steun. Die voorpaneel is van harde plastiek en kom in twee kleure, swart bo en roomkleurig onder. Dalk, as die voorpaneel swart was, sou dit ‘n meer luukse voorkoms gehad het maar dit is ‘n kwessie van individuele smaak.
Die material wat gebruik is voel egter duursaam. Spasie is meer as voldende vir voor- en agter insittendes en die amper plat vloer vergroot die spasie agter, Die bagasie-ruimte agter is nie baie groot nie, maar die agter sitplekke kan platgeslaan (60:40) word vir meer spasie.
Binne is die XUV300 toegerus met ‘n indrukwekkende lys van modern luukshede wat met ‘n raakskerm in die middel van die voorpaneel beheer kan word. Behalwe die klanktoerusting (radio en CD) is daar ook sateliet-navigasie, Bluetooth, Smartwatch, en op die W8 spesifikasievlak ook Apple Carplay en Android Auto.
Daar is vier luidsprekers en kontroles op die stuurwiel.
Die stuurwiel kan op en af verstel word, en daar is ‘n opsie om die gevoel van die stuur te verander van “Comfort” na “Sport”.
Verder is die XUV300 toegerus met elekriese vensters, spoedbeheer (W8) en volle elektroniese klimaatbeheer (gewone lugreëling in die W6).
Vir veiligheid kry jy 2 lugsakke, ABS-remme met elektroniese remverspreiding (EBD) en rembeheer om draaie (CBC). Die top (W8) model het onder andere nog addisioneel vyf lugsakke – dus sewe altesaam – asook misligte voor en agter, parkeersensors voor en agter, ‘n trukamera en banddruk monitering.
Slegs die 1,5 liter turbodiesel was aangebied om te toets en die enjn met sy goeie wringkrag teen lae rewolusies reageer lekker vinnig wanneer dit nodig is, byvoorbeeld om stadiger voertuie verby te gaan. Ons kon die XUV op redelik verskillende padtoestande bestuur. Eers op ’n snelweg en daarna drie bergpasse.
In vyfde rat teen Sir Lowryspas op kon die XUV nog maklik spoed op tel en teen die 120km/h op die N2 het hy stewig en veilig gevoel. Die kronkelpaaie van die bergpasse was weer ‘n ander uitdaging en alhoewel XUV300 effe aan die hoë kant is, was sy gedrag om draaie redelik goed en onder beheer.
Brandstofverbruik word aangeggee as 5,0 L/100km vir die diesel en 5,8 L/100km vir die petrol – wat baie goed is.
Al die modelle word gedek deur ‘n volle 5-jaar / 150,000km standaard waarborg en ‘n 5-jaar / 90,000km diensplan en padbystand.
Die nuwe Mahindra XUV300 is seker een van die belangrikste modelle wat Mahindra op die mark geplaas het. Heelwat kenmerke tel in sy guns. Lewendige enjins, voldoende spasie, mooi voorkoms, heelwat luukshede en toerusting en die prys is reg. Dit behoort goed te vaar in ons mark.