Bekendstelling: Nissan Juke

Kleinboet van die Qashqai

As daar nou ‘n nuwe motor is waarvan die voorkoms gemengde reaksie uitgelok het van motorkenners tot die publiek is dit die nuwe model van Nissan, die Juke. Dit kan as die kleinboet van die Murano en die gewilde Qashqai  beskou word en Nissan bemark die Juke as ‘n alternatief in die B- en C-segmente van die luikrug motor mark.

Maar eintlik val die Juke in ‘n segment van sy eie, lyk beslis anders en staan uit tussen die ander motors. Die naam beteken “systap” en word in Amerikaanse voetbal gebruik.

Maar as die Juke se voorkoms nie vir jou ‘n probleem is nie, kan jy ‘n baie lekker en praktiese motor koop met hope pret. Die Juke besit meeste van die basiese dinge wat jy graag ‘n klein motor wil hê soos spasie, veiligheid, genoeg krag, goeie brandstofverbruik en gemak.

Verder is die rit op die langpad gemaklik en rats in die verkeer. Nissan bemark dus ook die Juke as ‘n stadsmotor al lyk dit na ‘n klein SNV. Die bestuurder sit hoër as in gewone sedan motor en die uitsig dus baie goed.

Van binne lyk die Juke net so anders as van buite. In die middel is daar ‘n bolvormige konsole wat blykbaar op ‘n motorfiets se brandstoftenk baseer is.  In sommige modelle is die konsole rooi geverf en so ook panele van die deure. Die Juke kom met ‘n rits standaard items soos lugreëling,  elektriese vensters, Bluetooth en ‘n USB poort.

Daar is ook ‘n sok vir selfone, musiekspelers, ens. Die Juke het ‘n I-Con koppelvlak waarmee die bestuurder die  lugreëling en ander inligting kan lees en beheer. Dit sluit die stel  van die binne temperatuur en die klankstelsel en gee inligting oor die brandstofverbruik en ander data wat vir die bestuurder van nut is.

Alhoewel been- en kopspasie voldoende  is vir vier volwassenes moet die agterste passasiers nie baie groot wees nie. Die bagasieruim is redelik klein met net 250 liter spasie, maar daar is ook ‘n groterige versteekte spasie onder die bagasieruim wat darem nog ‘n paar ekstra waardevolle goedjies kan neem. Om meer bagasie te laai kan die spasie vergroot word tot 830 liter wanneer die agter sitplekke vorentoe gevou word.

Die Juke is beskikbaar met ‘n keuse van twee enjins. Die enjins is albei 1,6 liter petrol eenhede. Een is ‘n gewone enjin wat 86kW ontwikkel en ’n wringkrag gee van 157Nm. Volgens Nissan sal dit ‘n gekombineerde brandstofverbruik van  6,0l/100km gee.

Die sterker 1,6 liter petrol enjin is met ‘n turbo toegerus wat ‘n lekker stewige 140kW en  240Nm wringkrag lewer. Dit laat die Juke versnel van 0 tot 100km/h in slegs 8 sekondes. Hierdie lewendige enjin maak die Juke werklik groot pret om te bestuur in alle omstandighede en verbruik slegs 6,9l/100km gemiddeld.

Die padgedrag van die Juke is puik. Nissan se ingenieurs het dit reggekry om die hantering om draaie meer as net aanvaarbaar te maak en hy boesem vertroue in met ‘n gevoel van stabiliteit en veiligheid. Die stuur is akkuraat en die Juke stuur presies waar jy dit wil hê. Verder ry hy gemaklik en die ongelykhede op die pad word goed deur die veerstelsel geabsorbeer.

Die Juke met die turbo enjin het ‘n interaktiewe bestuur beheer stelsel wat jy kan stel na gelang die omstandighede van  die pad. Dit het drie verstellings, naamlik “Eco”, “Normal” en “Sport”. Die Eco modus is vir die stad se stadige stop en gaan verkeer. Dit maak die stuur ligter vir meer hanteerbaarheid in die kleiner spasies in die verkeer.

Die Sport modus is wanneer meer krag benodig word. Dit verander die stellings van die versneller, asook die wringkrag kurwe en maak die stuur minder afhanklik van kragstuur. Al hierdie veranderings laat die Juke meer sportief en lewendig voel. Dit het egter tot gevolg dat hy effe meer brandstof gebruik.

Daar word diesel-, outomaties-, en vierwielaandrywing modelle vir Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. In sekere Europese lande is daar die moontlikheid van ‘n hoë verrigtings weergawe (met die enjin van die Nissan GT-R).

Al die modelle op die SA mark het 6 lugsakke asook ABS en VDC (Vehicle Dynamic Control). Die Juke het ‘n 5-ster EuroNCAP gradering gekry.

Die pryse sluit ‘n 3 jaar of 100 000km waarborg en diensplan in.

Pryse [ November 2011 ]

1,6 Acenta – N$198 000
1,6 Acenta+ – N$218 500
1,6 Turbo Tekna – N$253 000 plus N$5800 vir verhitte en leersitplekke.

Leave a Comment