Bekendstelling: Nissan Pathfinder 2.5 dCi 4×4 SE

Goeie nuus vir Nissan aanhangers – en ook ander!

Nissan van Suid-Afrika het so-pas ‘n baie netjiese skuif gemaak. Die prys van die uitstekende Pathfinder, waaroor ons voorheen al met soveel lof geskryf het, het met nagenoeg N$100 000 geval om hierdie begeerlike en taai 4×4 nou binne die begroting van soveel meer mense te kan plaas.

Hoe op aarde kry ‘n mens dit reg om so ‘n drastiese prysaanpassing te doen? Maklik; neem net ‘n aantal ware oortollige luukses weg en die besparing is genoeg om die voertuig se bemarkbaarheid dramaties beter en aanlokliker te maak. Van hierdie luukses sluit dinge in soos die ekstra ry sitplekke wat van die Nissan ‘n 7-sitplekker maak, die tru-kamera wat moet wys wat aan die agterkant van die voertuig aangaan, sitplekke wat elektries warm (of kouer) gemaak kan word en sulke soort van dinge waaraan die meeste van ons nooit dink nie, of in elk geval nooit regtig gebruik nie.

Teen ‘n prys van N$450 900 ding Nissan nou mee in die gesogte klas waar Toyota met sy Fortuner tot onlangs die septer geswaai het, en miskien nog steeds swaai. (Die outomatiese weergawe kos N$470 900). Maar die keurige kopers het nou ‘n keuse wat hulle tot ‘n jaar of wat gelede nie gehad het nie.

Die Pathfinder is nou al ‘n paar jaar op die mark maar sy bakvorm is myns insiens nog nie verander nie; hoekom iets verander wat steeds goed lyk? Die bonkige voorkant, en die amper vierkantige agterkant wat baie stoorplek het, is prakties en funksioneel, bedoel vir jagters wat ‘n klein koedoe agter in wil wegpak. Per slot van sake, is daar al telling gehou van hoeveel ernstige 4×4 manne sewe mense wil aanlaai – en dan ‘n sleepwa aanhaak vir al die bagasie?

Die rit van die Pathfinder is besonder gemaklik, danksy die onafhanklike vering voor en die multiskakel vering agter wat die agteras mooi in plek hou op beide hoofpaaie en ook as die voertuig regte rowwe paaie onder die knie moet kry. En rowwe paaie en hindernisse is hierdie Nissan se kos. Op die 4×4 roete in die Waterberg het die Pathfinder sy ding na behore kon doen, al moes van die motorjoernaliste meer as een keer probeer om ‘n skerp duin uit te ry.

Die SE is beskikbaar slegs met ‘n beproefde 2.5-liter 4-silinder enkelspoor turbodiesel enjin wat 140 kW teen 4 000 rpm lewer en 450 Nm teen 2 000 rpm beskikbaar stel. Volgens Nissan is hierdie verrigting ongeëwenaard by hierdie tipe voertuie.

Aandrywing na die wiele vind plaas deur outomatiese vyfgang-  of handrat-sesgang ratkaste. Wanneer ruwe terrein aangepak word, is dit egter nodig om die voertuig eers tot rus te bring voordat die laer aandrywing via die oordrakas ingeskakel kan word, die selfde geld ook vir ontkoppeling. Dit kan toegeskryf word aan die relatiewe eenvoudige meganiese aspek van die 4×4 aandryfstelsel. Waar die stelsel egter wel hoë tegnologie gebruik is die manier waarop die ABS-remstelsel ingespan word om te versker dat al die wiele bly draai al sou een of meer van hulle in die lug bly hang. Nissan noem dit hulle Active Brake Limited Slip (ABLS) wat verseker dat die voertuig nie eenvoudig gaan stilstaan as daar van die wiele is wat begin gly nie. (Dit is dus die teenoorgestelde werking van ABS wat enige wiel wat wil tol, effektief stop). Die praktyk op die 4×4 roete het hierdie pluspunt van die Pathfinder goed geïllustreer – in teenstelling met ‘n nuwe 4×4 model met gewone ABS-remme wat ons enkele jare gelede getoets het en op ‘n modderige afdraand lelik laat bontstaan het!

Ten spyte van die weglaat van die (miskien onnodige) ekstras, is die Pathfinder SE nie afgeskeep nie en is daar donker ruitglas (om die hitte uit te hou), die standaard ses houers vir koeldrank of iets sterkers, kontroles op die stuurwiel en Bloutand vir die selfoonkletsers. Veiligheidseienskappe sluit in ses lugsakke en die lys met die klomp afkortings: ABS, EBD, VDC (Dinamiese voertuigbeheer), HSA (opdraande wegtrekhulp waarmee jou leerling-bestuurderkind die eerste keer al die bestuurder toets teen die bult sal slaag), afdraande-beheer op die outomatiese model en dan ook die  gevierde ABLS-stelsel om al die wiele te laat draai!

Vir dié wat graag al die ander luukse dinge ook wil hê is daar steeds die outomatiese LE model teen N$594 900 en die 3-liter LE, ook outomaties, teen N$694,900.

Goeie nuus is dat die nuwe Nissan ‘n drie-jaar diensplan insluit en ook oor ‘n 100 000 km of 3-jaar waarborg beskik.

Leave a Comment