Bekendstelling: Nuwe Hyundai i10

Ideale stadsmotor, maar ook vir die langpad.

Verby is die dae waar jy met die koop van ‘n intreevlak motor met net die basiese tevrede moes wees. Die nuwe opgeknapte i10 stel nuwe standaarde vir klein motors teen ‘n bekostigbare prys. Die i10 spog met ‘n hele lys van standaard kenmerke wat mens onlangs net in duurder modelle aangetref het.

So is daar kragstuur, lugversorging en elektriese vensters voor en agter. Die stuurwiel en die bestuurder sitplek se hoogte kan verstel word en die agterruit verhit word en het ook ‘n ruitveër.

Alle modelle het  ‘n stereo klankstelsel met ‘n CD speler en MP3 speelvermoë. Daar is ook USB- en Aux-koppelpunte en kontroles by die stuurwiel vir die klankstelsel.

Die klein veranderings voor en agter is beslis verbeteringe in sy voorkoms.  Van buite is die hoofligte verander, so ook die agterligte groep. Die sierrooster lyk nou meer tipies soos die meeste ander modelle in die Hyundai-familie. Flikkerligte is in die kant truspieëls in gebou en agter is ‘n hoog gemonteerde remlig.

Die truspieëls is elektries verstelbaar en kan met die hand toegevou word. Die agterste buffer is nou in geheel die kleur van die bak en so ook die kantstroke. Die grys materiaal-sitplekke lyk luuks en duursaam.

Die afwerkings van al drie weergawes is basies dieselfde. Vir veiligheid het slegs die duurder 1,2 liter modelle sluitweerremme (ABS) met elektroniese remkrag verspreiding (EBD) en twee lugsakke vir die voorste insittendes.

Die teikenmark vir die klein i10 is die jonger geslag as eerste motor, maar is ook ideaal as ‘n tweede- of stadsmotor vir ouer mense.  Die bagasieruim van 225 liter is klein soos mens sal verwag van ‘n luikrug, maar groter as ander fabrikate. Die agterste sitplekke kan platgeslaan word wat die spasie vergroot na 910 liter.

Daar is twee enjins om van te kies, ‘n 1,1liter en ‘n 1,2 liter (wat eintlik 1,25 liter is). Die  kraglewering van die 1.2 liter enjin is vermeerder van 55kW na 64kW, wat hom lekker lewendig maak.

Die toetsrit met die i10 het op die hoëveld plaasgevind en die motor was nie net tuis in die stad nie, maar waar die terrein dit toegelaat het, kon ons die i10 bietjie meer laat draf teen die maksimum toelaatbare snelhede, wat  hy sonder moeite hanteer het. Die i10 se hantering is baie goed en stabiel en daar is nie baie geraas van wind of die pad nie.

Die i10 is redelik suinig volgens Hyundai se toetse. Hulle gee die brandstofverbruik aan as 4,7 liter/100 km vir die Hyundai i10 1,2 GLS met die handratkas, terwyl die i10 1,1 GLS met sy minder krag 4,8 liter/100 km in ‘n gekombineerde amptelike toetsrit aangeteken het.

Die i10 1,2 GLS met die outomatiese ratkas se amptelike verbruiksyfer is 5,5 liter/100 km. Die i10 1,2 GLS (handrat) haal ‘n topsnelheid van 169 km/h en die outomatiese weergawe 160 km/h. Die versnelling van 0 tot 100 km/h duur onderskeidelik 12,3 sek. en 13,8 sek vir die twee sterker modelle.

Belangrik egter is ook die CO²-uitlate van 113 g/km vir die i10 1.2 GLS handrat weergawe wat onder die belasting perk van 120 g/km val. Die outomatiese 1,2-weergawe se syfer is 132 g/km.

Die i10 1,1 GLS haal ‘n topsnelheid van 153 km/h en versnel binne 15,2 sek. van 0 tot 100 km/h. By hierdie model is die belangrike syfer egter sy CO²-uitlate van 114 g/km, wat ook beteken dat hy nie daarop belas word nie.

Pryse

Hyundai i10 1.1 GLS N$99 900
Hyundai i10 1.2 GLS  N$109 900
Hyundai i10 1.2 GLS  N$119 900

In dieselfde prysklas kan kopers wat die 1,2 liter model wil koop, ook die Chevrolet Spark,  die nuwe Nissan Micra Visia,  die  Citroën C1/Peugeot 107/Toyota Aygo trio, die Daihatsu Charade en die Suzuki Alto oorweeg. Maar almal van hierdie ander fabrikate het of minder luukshede, of minder krag, of minder spasie as die Hyundai i10.

Hyundai bied ‘n waarborg van 5 jaar of 150 000 km insluitende roes en ‘n nood padbystand diens. Die diensintervalle is 15 000 km.

Met die bekendstelling van ‘n reeks nuwe modelle verlede jaar en nou met die eerste nuwe model van 2011 sowel as die nuwe Elantra wat eersdaags hier sal wees, is Hyundai beslis besig om seker te maak dat hulle onder die wêreld se voorste motorvervaardigers gereken word. Met hierdie nuwe i10 tesame met die nuwe 64kW enjin, plaas Hyundai  ‘n ideale stadmotor op die mark maar wat jy ook maklik die langpad kan aandurf sonder om twee keer te dink.

Leave a Comment