Nuwe vlagskip van Suzuki
Suzuki is in Suid-Afrika bekend vir hulle klein 4×4 voertuie, die Jimny en Vitara asook klein luikrug modelle, die Alto en Swift en dan hulle natuurlik ‘n lang geskiedenis as vervaardigers van motorfietse.
Maar met die Japanese motorvervaardiger se nuutste model, die Kizashi, plaas dit Suzuki’s in ‘n heel ander klas. Die marksegment waarin die Kizashi val is ‘n redelik gewilde mark, die C- en D-segment sedanmotors. Daar is heelwat modelle in hierdie mark met ‘n groot verskil in pryse.
Suzuki wil egter die hoër end van die mark aanvat met die Kizashi se toerusting, luuksheid, afwerking, krag en spasie. Die Kizashi sal dan ook voortaan Suzuki se vlagskip model in Suid-Afrika wees. Hiermee wil Suzuki nou sy beeld as vervaardiger van alle groottes en vorms vestig. Die Kizashi is gemik op die gesin en vir jong mense wat bietjie meer verwag.
Daar is slegs twee opsies waaruit die koper kan kies – ‘n handrat met ses ratte vorentoe en ‘n CVT-model. Vir diegene wat nie daarmee bekend is nie – die CVT staan vir Continuous Variable Transmission en funksioneer soos ‘n outomatiese ratkas, behalwe dat dit ‘n oneindige aantal ratverhoudings het en verander dus aaneenlopend soos die naam aandui.
Vir bestuurders wat wel daarvan hou om ratte te wissel kan die CVT-ratkas ook met klein spaantjies op die stuurwiel op en af geskuif word in die posisies wat gelykstaande aan ses ratte is. Wanneer benodig kan die ratte kan ook gekies word terwyl dit in outomatiese modus is en sal daarna weer self terugkeer na outomaties.
Watter een van die twee weergawes van die Kizashi die beste is om te kies is ‘n persoonlike keuse, maar die outomatiese motor is natuurlik meer gerieflik en gemaklik, veral in stadsverkeer maar is dan ook N$15 000 duurder. In die bekendstellingsrit wat ons met die motors in die omgewing van die Magaliesberge gehad het, was die CVT beter as wat ek van tevore ervaar het, maar my persoonlike is tog die handrat weergawe.
Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat hierdie ‘n puik voertuig is. Die motor is mooi uit alle hoeke en die afwerking is uit die boonste rakke. Die profiel is tipies soos ‘n sedan en lyk nogal na die Volkswagen Jetta. Voor volg die Kizashi die Suzuki familietrekke met die sierrooster en die groot S in die middel.
Agter het hy ‘n geïntegreerde drukvin bo-op as deel van die bagasieruim en bevat ook ‘n addisionele remlig. Op ‘n afstand lyk die Kizashi se grootte nogal misleidend. Weens sy kort oorhang voor en agter is die voorkoms kompak terwyl dit eintlik dieselfde binneruimte bied as sy meer lywige mededingers.
Die Kizashi is toegerus met heelwat standaard kenmerke soos elektriese venters, outomatiese klimaatbeheer met uitlate vir die agterste passasiers en ‘n sleutellose aansitter. Die klankstelsel sluit ook CD en MP3 funksies in en het altesaam agt luidsprekers. Verder is ‘n elektriese sondak standaard en daar is heelwat pakplek vir glase, bottels, ens. Die sitplekke is van leer en is elektronies verstelbaar. Die bagasieruim is lekker groot met ‘n volume van 461 liter. Die bougehalte is baie goed en daar is min geraas binne die voertuig.
Behalwe die ratkaste is daar verder geen verskille tussen die twee opsies nie. Albei het dieselfde 2,4 liter vier silinder enjin. Die kraglewering is 131 kW @ 6500opm met 230 Nm wringkrag @ 4000opm. Die enjin is ‘n effe kragtiger variasie van die enjin wat ook in die Vitara te kry is. Die enjin kan nie noodwendig as sportief beskou word nie maar is lekker lewendig en gee ‘n goeie brandstofverbruik van 7,9 liter/100 km.
Met die bekendstellingsrit vroeg in Augustus, kon ons ervaar hoe die Kizashi op die pad voel. Van snelweë tot klein draaierige passe, met hier en daar slaggate, is gery. In al hierdie omstandighede ek het die ritgehalte en hantering van die Kizashi as puik ervaar. Die kar voel stewig, veilig en gemaklik met genoeg krag om vinnig te versnel en stadige voertuie kan maklik en met vertroue verby gegaan word.
Suzuki gee die maksimum spoed aan as 215km/h vir die handrat model en 205km/h vir die CVT model en die versnelling van 0-100km/h as 7.8 en 8.8 onderskeidelik. Die wiele is groot met 235/45R18 bande. Die Kizashi is toegerus met ‘n 63 liter brandstof tenk
Die prys van die Kizashi sluit ‘n 3 jaar of 100 000km waarborg en ‘n 6 jaar of 90 000km diensplan asook ‘n 3 jaar padbystand plan in. Suzuki het nou sy handelaars netwerk in Suid-Afrika tot 31 uitgebrei.
Ander motors waarteen die koper van ‘n Kizashi dit moet opweeg in dieselfde prysklas en grootte, is Honda Accord 2,0 i-VTEC, Volvo S60 T3 en S40 R-Design, VW Passat TSI Comfortline en Audi 1,8T FSI Attraction. Al hierdie modelle het egter minder krag as die Kizashi.
Pryse [ Augustus 2011 ]
Kizashi 2,4 Handrat – N$295 900
Kizashi 2,4 CVT – N$310 900