Geskiedenis: Hyundai

Hyundai: Van Basterponie tot Volbloed Hings!

Korea was tot ‘n dekade of wat gelede ‘n land iewers in die Ooste waarvan Suid-Afrikaners min geweet het en selde besoek het. Maar by sommige van ons ouer lesers mag daar tog noue bande met Korea bestaan omdat hulle pa’s of oupa’s in 1950 lede van die “Vlieënde Cheetahs” was wat daar saam met die Amerikaanse Lugmag teen die Kommunistiese Noord-Korea geveg het.

Dit was dan ook hier waar die eerste Suid-Afrikaner deur die klankgrens met ‘n Amerikaanse Sabre F86 gebars het. Laasgenoemde vliegtuie is na Korea as teenvoeter vir die MiG-15 vliegtuie met hulle Russiese vlieëniers, aarde toe te bring.

As sesjarige knaap onthou ek nog die Kersuitgawe van Die Huisgenoot van 1950 waarin Kersgroete aan ons manne in Korea gestuur was. Die advertensie was geplaas deur die vervaardigers van Kommando sigarette. En natuurlik was daar op die kersgroete-advertensie ‘n foto van hoe daar kratte vol van hierdie sigarette op ‘n vliegtuig van die SA Lugmag gelaai word vir “ons manne in Korea wat daar op die voorposte teen die kommuniste geveg het.”

Dan was daar in die tagtigerjare ook berigte in ons kerke van hoe die Christengeloof in Korea opbloei en hoe daar talle Koreeanse dominees op Stellenbosch verder kom studeer het. Maar dit was dit.

In die middel-sewentigerjare het ek in TIME gelees dat daar ‘n nuweling in Noord-Amerika aangekom het – en toon ‘n lae prys wat almal laat regop sit het. Hierdie motor was die Hyundai Pony.

Die Pony was die eerste inheemse motor wat in Korea vervaardig is. Heeltemal Koreaans was hy nou ook nie; die enjin en aandrywingstelsel was van Mitsubishi afkomstig met 1.2, 1.4 en 1.6 liter enjins. Sy internasionale bekendstelling was op die Turynse motorskou van 1974 en is kort daarna in Suid-Amerikaanse lande verkoop voordat Kanada aan die beurt gekom het. En dit was ook uit Kanada wat Suid-Afrika later sy eie Sabres bestel het.

Nadat die Pony in Kanada goed ontvang is – waar hy ‘n jaar later die beste verkoper was – het die golf oorgespoel na die VSA. En wie dit in die VSA gemaak het, was verseker van ‘n plek in die motorwêreld. Die gevolg was dat Hyundai ná die sukses met die Pony stap-vir-stap hulle motors selfstandig kon begin ontwikkel. Die res van die verhaal ken ons.

Om ‘n nuwe en onbekende handelsnaam te vestig, en dit nogal uit ‘n relatief onbekende land, verg goeie navorsing en in die eerste plek goeie diens. Hyundai se toetrede tot die Suid-Afrikaanse mark was via Botswana en deur ‘n individu wat nie altyd die maatskappy se belange op die hart gedra het nie. Maar die goeie diens, die persoonlike aanslag en die vestiging van handelsmerk-lojaliteit by kopers tussen die Kaap en die Kunene, het die Hyundai handelsnaam stewig gevestig. En teen alle verwagtings, en tot die teleurstelling van die doemprofete en opposisie, het die eerste generasie Hyundai eenvoudig gehou-en-gehou en in die proses‘n reputasie vir betroubaarheid opgebou wat menige van die gevestigde mededingers hulle voortande sou wou gee.

Intussen het die Koreane hulle minder aan die Amerikaners se giere begin steur en Europa as die gesofistikeerde mark begin sien en hulle motors daarvolgens begin bou.

In die hoogs-komperende motormark, wat jaarlikes groei en aangevul word deur die Indiese en Chinese reuse wat ontwaak, kan daar nie meer minderwaardige motors gebou word nie. En die mense wat vroeër net Duits of Frans gekoop het, ekself inkluis, is daar al hoe meer ‘n swaai na waarde-vir-geld in plaas van verknogtheid aan ‘n handelsnaam of land van herkoms. Ten slotte word die land van herkoms nie meer op ‘n plaatjie onder die enjinkap aangedui nie en is die VIN-kode die aanduiding. Maar nêrens staan daar pertinent “Vervaardig in Suid-Afrika/Duitsland/Japan of  Frankryk” nie. Die beste is maar om te kyk waar die bande vervaardig is, of die ruitglas! Op laasgenoemde wyse kon ek vasstel dat ‘n Volvo met ‘n voorruit uit Italië, agterruit uit Swede en sy-ruite uit België, inderdaad in België gebou is! So is daar waarskynlik talle Amerikaners wat dink dat hulle Mercedese in Duitsland of Europa gebou is en sal hulle miskien die horries mag kry as hulle uitvind dat hy “Gebou in Afrika” is.

Maar terug na Hyundai.

Het vantevore met die Tiburon kennis gemaak, en toe onlangs weer met die nuwe IX35 nutswa, die waardige opvolger van die Tucson, en verstaan hoekom daar ‘n lang waglys vir hierdie ligte 4×4 is. Die baster-ponie het in ‘n flink en volwaardige ryperd ontwikkel!

Leave a Comment