Mahindra neem ‘n yslike tree vorentoe
- Mis jy die 1980’s “sitcoms”?
- Het jy dalk agressie probleme?
- Mis jy die geluid van jou mikrogolfoond se ‘beep’ geluid deur die dag?
As jy ‘Ja’ op enige van hierdie vrae geantwoord het, is die nuwe Mahindra XUV 300 perfek vir jou.
Die splinternuwe Mahindra XUV 300 is die Indiese vervaardiger se poging om die klein SUV mark te betree. Ietwat groter en meer familie-vriendelik as die gewilde Mahindra KUV100, draai die intree vlak pryse net onder die R300 000 merk en bied dit ‘n waardige stand teen ander modelle soos die Ford EcoSport en moontlik Volkswagen se nuwe T-Cross (Ons sal hierdie binnekort toets).
Tydens die afgelope vier jaar het ek ‘n paar geleenthede gehad om Mahindra se modelle te toets en hoewel die stereotipe daarop mag dui dat hierdie vervaardiger nie die beste standaard lewer nie, moet ek bieg dat Mahindra met elke model geweldig verbeter.
Die nuwe XUV300 is geensins anders en is dalk die vervaardiger se beste sprong nog. Natuurlik is dit nie sonder foute nie, maar Mahindra het dit reg gekry om goeie kompetisie te bied in hierdie mark segment.
Die foute (nee, eintlik prettige karakter eienskappe) van die XUV300 is eintlik komieklik. Direk nadat ek in die voertuig geklim het vir die eerste keer, moes ek dadelik op die N2 snelweg klim. Dit was ‘n fout, siende dat ek eers die gaping tussen die koppelaar- en rem pedale moes oefen teen lae spoed. Met die pedale, wat so naby aan mekaar geplaas is, neem dit ‘n rukkie om daaraan gewoond te raak en nie elke keer ‘n “linkervoet-noodstop-rem-aksie” uit te oefen as daar van ratte verwissel word nie.
Tweedens, moet elk van die deure (en veral die van die kattebak) twee keer hard toegeslaan word. Meestal word ‘n derde probeerslag, met meer momentum en agressie benodig. ‘n Goeie opsionele ekstra, wat Mahindra as standaard by die prys voeg: “Koop ‘n Mahindra XUV300 en kry onbeperkte gratis agressie meditasie sessies verniet ingesluit”. Ons hoop van harte dat hierdie egter ‘n fabrieks fout op ons eenheid was.
Derdens en meer op ‘n positiewe noot, het Mahindra, soos altyd, ‘n deuntjie geheg om die bestuurder te verwelkom of te groet sodra die enjin aan- of af geskakel word. Die deuntjies in die XUV300 laat my egter dink aan dié van ou ‘sitcoms’ soos “That 70’s Show”, “Seinfeld” of “The Fresh Prince of Bel-Air”.
Natuurlik, soos met meeste nuwe voertuie, begin ‘n biep-geluid die bestuurder herinner as die enjin nog aangeskakel is en ‘n persoon wegstap met die sleutel by hul. Met die XUV300 laat hierdie klank egter my maag rommel… opsoek na kos. Die einste ‘biep’ klink of dit reguit vanaf my eie mikrogolfoond kom.
Alle flaters opsy geskuif, is die XUV300 ‘n goeie voertuig en ek moet bieg dat ek dit mis.
Met die klein SUV mark (let wel, vierwiel-trek uitgesluit), is dit selde moontlik om een van hierdie voertuie teen R249,999 (XUV300 1.2 petrol W6) aan te skaf. Ons toets model is natuurlik die duurste in die reeks met die 1.5 Diesel W8, wat inkom teen R324,999. Selfs met hierdie prys, is die XUV300 geweldig kompiterend!
Die XUV300 is na Suider-Afrika gebring met vier enjins; die 1.2 (W6) drie silinder diesel en petrol, sowel as die 1.5 (W8) vier silinder diesel en petrol. Die W6 enjins verskaf 81kW en 200Nm, waar die W8, 86kW en 300Nm uitskop.
Elk van hierdie vier voertuie word verkoop met ‘n baie gemaklike en seepgladde ses-spoed handrat ratkas.
Met die XUV300, wat net vier meter lank en 1.82 meter breed is, is dit baie maklik om die voertuig in die middestad rond te skuif. Dit is klein genoeg vir maklike bewegings, met ‘n baie goeie draaisirkel, terwyl die voertuig self aan die binneruim nie ‘n tekort aan spasie het nie.
Elk van die voertuie kom met ‘n 17.8 cm informasie paneel (streel paneel), sowel as twee USB poorte. Hierdie informasie stelsel is ook nou konnekteerbaar met Bloutand, Apple CarPlay en Android Auto.
Natuurlik, teen ‘n hoër prys, word daar meer verwag vanaf die W8 modelle en Mahindra het nie terug gehou met ‘n “waarde-vir-geld” kopie nie.
Met die W8 modelle kom 17 duim allooi wiele, leer sitplekke, elektroniese voubare kant spieëltjies, dubbele klimaat beheer, spoed beheer sowel as sleutellose sluit funksies.
In terme van veiligheid kom die XUV300 W8 standaard met sewe lugsakke, ESP, voor en agter misligte, ‘n trurat kamera, trurat sensors, bult stilstaan hulp en band druk monitoring.
Hoewel ons steeds gevind het dat die stop/start, funksie steeds sukkel (soos ook in die KUV100), het Mahindra oor die geheel ‘n geweldige stap vorentoe geneem. Die XUV300 het waardig die mark betree as ‘n geldige kompiteerder en behoort Mahindra se onlangse sukses in Suider-Afrika nog te verbeter.
Lekker!!