Padtoets: Citroën DS3 THP Sport

‘n Kordate Franse haantjie met skop!

Vir Citroën-entoesiaste hoef jy net die letters “DS” te noem en jy kan weet daar gaan lekker gesels word! Die DS-letters  gaan terug na die tyd toe die rewolusionêre “nuwe” Citroën ID 19 in die middel-vyftigs die hele wêreld onkant betrap het met ‘n bakvorm wat aan ‘n glibberige haai herinner het.

Hierdie ontwerp was só modern dat doemprofete voorspel het dat die motor nooit sou verkoop nie. Ook dat die hidrouliese vering nie sou kon werk op harde Suid-Afrikaanse grondpaaie nie. Natuurlik was hulle verkeerd; hierdie ongewone motor het tydren na tydren in Europa gewen, en nog meer belangrik, ook die taaiste tydren in Afrika – die Algiers-Kaapstad tydren en het ook skitterend gevaar in die Oos-Afrika Safari’s. Die DS-weergawe het kort op die hakke van die ID gevolg en was die topmodel van die reeks wat op sy tyd al ligte gehad het wat saam met die wiele om kurwes gedraai het. (Ongelukkig het die padordonnansies in Suid-Afrika genoodsaak dat die ligte ontkoppel moes word omdat dit glo aankomende verkeer sou verblind!). Dié Citroëns wat nog op motorskoue, en ook nog vir alledaagse gebruik op ons paaie te sien is, is gewoonlik die DS-modelle.

Die DS3, of om sy volle modelnaam te noem; 1.6 THP Sport, is ‘n tweedeur buksie wat die letters DS met eer dra; hy lyk anders as die gewone blitsbukse waarteen hy meeding; het die houding van sy voorsate en is soos die meeste Franse motors, net totaal anders. Dié soort motor wat jou laat uitstaan in die eentonig massa.

Goed; hy is ‘n mooi klein motor wat die aandag op hom vestig, veral van die sykant af met sy donker agterruite wat ‘n haastige, unieke profiel oplewer. Maar wat is onder die sondak en die enjinkap? En hoe lyk sy vering en hoe ry hy?

Binne is die sitplekke volledig verstelbaar en saam met die verstelbare stuur; kan die bestuurder die mees gemaklike en veilige sitposisie vind om die Citroën soos ‘n meester te kan bestuur, veral op vinnige, draaierige paaie en iets van tydrensport ervaar. Die motor, met sy wiele op die uithoeke geplaas, klou soos ‘n neet aan die pad en kan ‘n mens verstaan hoekom Citroëns ook nou se dae so goed in tydrenne presteer; die talent is in die gene van die motor ingebrand. Verder is daar natuurlik aan die binnekant al die jongste elektroniese tegnologie wat veiligheid bevorder en is die klankstelsel met ‘n USB-poort toegerus vir dae lank se musiek; so ook Blue Tooth versoenbaarheid. Tot hier die lofliedere. Maar daar is soveel elektronika binne op die paneelbord dat die handboek eers bestudeer moet word om uit te vind hoe om die radio te verstel. Maar dit is deesdae die probleem met die meeste duur en eksklusiewe motors.

Die hart van die DS is die 1,6 liter viersilinder met turbo-aanjaging wat 115 kW teen 6 000 toere ontwikkel 240 Nm teen ‘n baie rustige 1 400 toere beskikbaar stel; die soort krag wat veroorsaak dat die lui motoris nie eintlik hoef ratte te wissel om heel skaflik te versnel nie. Aan die ander kant is dit lekker om tussen die ses ratte rond te speel om die wakker blitsie te laat spring. Soos dit by Citroën aard, reeds vanaf die dertigerjare, trek hy deur sy voorwiele. Citroën het nie hierdie aandryfstelsel uitgevind nie maar dit wel populêr gemaak toe ander vervaardigers nog almal die ewenaar agter gehad het. Hierdie DS versnel dan ook van 0-100 km/h in ‘n raps meer as 8 sekondes en laat die naald draai net duskant 215 km/h. Nie sleg nie! Met normale ry kan ‘n verbruik van rondom 8 liter 100/km verwag word. Maar met die gewillige enjin gaan dit moeilik wees om “normaal” te ry omdat hierdie ryperdjie graag wil galop en ‘n mens op dié manier in die versoeking lei.

Die Citroëntjie val in die klas van kultusmotors soos die nuwe MINI en Fiat 500 en Nuwe Kewer.  Boonop deel hy ook ‘n enjin met die MINI, hoewel laasgenoemde ‘n paar kilowatt méér ontwikkel as die Fransman. En natuurlik gebruik die Citroën ook dieselfde enjin as wat in die 1,6 liter Peugeots gebruik word sedert Peugeot die kleiner vervaardiger jare gelede oorgeneem het.

Oulik soos hy is, het die DS3 nie ook tekortkominge nie; die kattebak maak net halfpad oop en dit gaan maar lol om groot voorwerpe ingelaai te kry. Inherent aan tweedeurmotors is die grootte van die voorste deure wat swaar is en moeilik tussen geparkeerde motors oopgemaak word. Hoewel toegang tot die agterste sitplekke goed is; is hierdie tipe uitleg nie vir ouer motoriste bedoel nie en is die DS3 ‘n jongmenskar. Dit sal ook die jonges van dae wees wat in die lang lys opsionele ekstras mag belangstel wat 17-duim allooivellings insluit.

Die Citroën kan joune word as jy bereid is om ‘n banktjek van N$271 900 aan die handelaar uit te maak. In ruil kry jy die pretmotor met ‘n 3 jaar / 100 000 km fabriekswaarborg asook ‘n 4 jaar / 60 000 km diensplan en ‘n 3 jaar 24 uur padbystandhulp – as hy iewers langs die pad onklaar sou raak!

Leave a Comment