Padtoets: Infiniti FX 30d S

Met Nissan se nuwe vlagskip die oneindigheid in!

Om met só ‘n nuwe kraakvars maar feitlik onbekende motor soos die Infiniti FX langpad te ry, het sy verrassings. Op die vakansierit na die Oos-Kaap was ons dikwels deur verbygangers gestop, een man het spesiaal omgedraai en my agternagesit om te kom vra: Nou wat se ryding is dit dié! Dan elke keer dieselfde antwoord: Dis Nissan se vlagskip, soos Lexus die vlagskip van Toyota is!

Die rede vir die grootskaalse verwarring lê waarskynlik in die Infiniti se logo wat, 1, onbekend is, en 2, verwarrend. Daar is meer as één keer gevra of die motor uit China kom omdat die manne van die Groot Muur se voertuie ‘n amper eenderse simbool vir hulle motor gekies het. Die simbool vir oneindigheid, wat ons seker van die woord infinity kan aflei, lyk so: ∞ Wat op die Infiniti se verkoelerrooster  verskyn is egter ‘n sirkel met ‘n kromming na binne aan die onderkant wat meer aan die omega teken herinner; iets wat dikwels op die kanselkleed in die kerke voorkom.

As die Chinese die Infiniti se kenteken op ‘n subtiele wyse wou naboots, het hulle dit waarskynlik gedoen omdat hierdie simbool of teken reeds vir jare lank in die VSA dié soort kwaliteit verteenwoordig wat eie is aan motors soos die Lexus en die Mercedes-Benz. Oulik van die Chinese! Maar die pluspunt vir Nissan is dat nabootsing die beste vorm van jaloerse bewondering is!

Daar is tans verskeie variante van die Infiniti op die mark wat die groter M, die kleiner EX en ‘n sportiewe G afslaandakmodel insluit. Maar hulle maar moet wag vir later; hier gaan dit om die SNV-tipe FX met sy 3-liter turbodieselenjin wat die woeste stormweer van die Oos-Kaap die stryd aangesê het en met vlieënde vaandels die vloede die vuurproef(?) geslaag het! Die Infiniti is inderdaad ‘n waterdigte wenresep vir die manne van Nissan.

Die FX beïndruk ‘n mens al vanaf ‘n afstand; die bonkige neus met verhewe modderskerms voor skep die indruk van brute krag en die halwe skrefiesoë waar die ligte behoort te wees (natuurlik in pas met die jongste Duitse ontwerpe) laat die indruk van ‘n kragtige, moeilike knaap met wie daar nie gesukkel moet word nie. Verder maak die groot wiele met die laeprofielbande  die nisse mooi vol om hom van die kant af net so besig en kragtig te laat lyk as van voor af. Dit is immers die voorkoms wat al die vervaardigers deesdae nastreef en kan ons nie daarteen baklei nie. Van my mede-joernaliste wat die bekendstelling van die volledige reeks bygewoon het, en veral die jongeres onder hulle, kan nie uitgepraat raak oor die byderwetse lyne nie.

As ‘n motor wat nuwe standaarde stel, of dan ten minste die hoogste waardes nastreef, is alles wat nuut is, wat kan oopmaak en toemaak, daar. Ook in oorvloed soos die kamera wat van bo-af kan wys watter hindernisse of gevare daar langs, vóór en agter die motor skuil. Dit is in ons gekwelde land dus ook ‘n persoonlike veiligheidsaspek waaraan die ontwerpers in Japan en Europa waarskynlik nooit aan gedink het nie. Al die jongste tegnologie word gebruik en die sitplekke is natuurlik voor ten volle verstelbaar met ingeboude geheues wat die verskillende bestuurders “onthou”. Die klankstelsel voldoen al die vereistes vir super-luistergenot en die radio se “soeker” verander gedurig om die beste sein van RSG op te soek.

Dit is egter op die langpad wat die Infiniti sy ware kleure wys. Die vering kan ‘n mens beskryf as sportief maar gemaklik. Die groot wiele dra by tot ‘n gemaklike rit oor goeie teerpaaie en swak grondpad maar die lae profiel bande is natuurlik nie geskik vir rowwe oppervlaktes nie. Hier bevind die Infiniti hom in die geselskap van die Audi en BMW mededingers wat soortgelyke tekortkominge het. Maar wie gaan nou regter “bos toe” met so ‘n voertuig? Die eintlike doel van hierdie soort super-stasiewaens met hulle permanente vierwielaandrywing is om sneeupaaie met veiligheid en sekerheid aan te pak. En wie het gereken dat die Karoo nie ook sneeu kan hê wat alle verkeer tot stilstand kan bring nie?

Die hart van die Infiniti FX30d S is die 3-liter V6 turbodieselenjin wat sy werk amper geruisloos doen. Die enjin ontwikkel 175 kW teen 3 750 opm en stel ‘n massiewe 550 Nm beskikbaar teen 1 750 opm. Dit is hierdie soort krag waarvan ‘n mens net droom as jy werklik krag soek in moeilike omstandighede. Die krag word deur middel van ‘n seepgladde 7-gang outomatiese ratkas na die vier wiele oorgedra. Hierdie kombinasie van enjinkrag en ratkas stel die Infiniti in staat om van 0-100 km/h te versnel in slegs 8,3 sekondes en die naald gaan draai teen 212 km/h (volgens Nissan).

Die ratverhouding op die Infiniti is hoog en teen 2 000 om op die toereteller snel hy teen 120 km/h op die grootpad voort en lewer uitstekende brandstofverbruik. Volgens Nissan is die algehele verbruik onder normale toestande so min as 9,0 liter/100 km en kan dit val tot so laag as 7,8 liter/100 km. ‘n Vinnige toets op die langpad Oos-Kaap toe, het egter op ‘n gemiddelde verbruik van 10 liter/100 km uitgewerk – sonder dat daar probeer was om “ekonomies” te ry. Of moontlik was my voet aan die swaar kant? Vir die groenes onder ons; die koolstofvrystelling is 238 g/km.

Die Infiniti FX30d S is ‘n deugdelike toevoeging tot ons motormark en die Nissan aanhangers, en daar is baie van hulle in die land, het nou ‘n voertuig om voor te aspireer en is hulle nie meer beperk tot Duitse prestige superwaens nie want die Infiniti is ‘n superwa. Maar persepsies van wat gesog is, en nie gesog is nie, is natuurlik nie iets wat binne ‘n dag of ‘n jaar verander nie.

Om op te som; hoe slegter die paaie en reën en modder en sneeu, hoe meer aanloklik word die eienskappe van die Infiniti: Krag, 4×4 aandrywing, soliditeit en betroubaarheid en dan natuurlik al die ekstras wat motorry net soveel lekkerder maak.

Maar wat kos hierdie begeerlikheid? Die bankbalans gaan nadat die papierwerk afgehandel is, N$768 613 minder wees. Maar in ruil is daar ‘n omvattende waarborg van 3 jaar of 100 000 km en word die voertuig gedek deur ‘n volle diensplan wat oor 5 jaar of 100 000 km strek.

Leave a Comment