Padtoets: Mazda CX-5

Nuttige Nuutjie uit die Ooste

Mazda se CX-5 nutsvoertuig is al ‘n hele tydjie op die mark maar ons het onlangs ‘n toetsmotor ontvang om onder normale en dag-tot-dag toestande te evalueer. Hierdie model het egter ‘n paar vernuwings ondergaan om hom méér omgewingsvriendelik te maak.

Hierdie Mazda is een van die motors waarmee jy eers regtig kan skryf as jy op ‘n lang toer Etosha of Krugerwildtuin toe was; met sy groot ruim sitplekke, groot bagasieruimte, bonkige voorkoms en goeie vryhoogte, is hy by uitstek ‘n langpad-toermotor en kan hy teerpaaie en grondpaaie ewe gemaklik hanteer.

Die Mazda se indrukwekkende neus is in pas met ‘n nuwe modeverskynsel – hoe groter en hoër, hoe meer in die mode – laat hom na ‘n jong kragreus lyk. Maar dit is bloot die illusie wat geskep word; eintlik is hy uit-en-uit ‘n gemaklike en stil gesinsmotor. Dit is dan ook die enjin wat só stil loop dat ek hom per ongeluk vir ‘n halfuur laat staan en luier het omdat ek gedink het dat die enjin inderdaad afgeskakel was! Of is dit tyd dat ek weer vir ‘n gehoortoets moet gaan?

Die vervaardigers maak daarop aanspraak dat die persoon wat die nuwe, stroombelynde CX5 gaan koop, ‘n persoon is wat met beide die hart en verstand gaan koop. Eerstens gaan dit oor die voorkoms, wat op die mespunt van nuwe ontwerpe staan, en dan tweedens gaan die koper hom vir ‘n lang tyd hou. Die kopers is dus jonger mense met kinders en hulle gaan hulle voertuig vir ‘n dekade of so hou voordat hulle weer van voertuig gaan verander. Of dit gaan ouer persone wees wat baie gaan toer en by die kinders en kleinkinders kuier?

Dit is egter onder die groot enjinkap waar die jongste verbeteringe aangetref word. Mazda noem die nuwe tegnologie SISS wat staan vir Smart Idle Stop System wat hom reg tussen die Duitsers plaas. Dit beteken dat as die motor nie loop nie, die enjin outomaties na ‘n bepaalde aantal sekondes, sal afskakel en eers waar sal aanskakel as die versneller getrap word.

Hierdie nuwe funksie het natuurlik twee goeie gevolge; in sommige lande in Europa word mens deur die wet verplig om by treinoorgange of verkeeropeenhopings die enjins af te skakel om onnodige uitlaatgasse aan die atmosfeer te beperk. Die tweede nuttigheid is dat daar nie onnodig brandstof vermors word nie. Mazda maak dan ook daarop aanspraak dat die brandstofverbruik met tot 10% verbeter word deur sy SISS-stelsel.

Waar die Duitse modelle gebruik maak van die elektriese aansitter om die enjin weer aan die gang te kry, onsteek die Mazda vanself deur ontbranding omdat brandstof direk ingespuit word om vanself te ontsteek. Daar is iets van die dieselenjin se basiese werking wat hier toegepas word. Dit veroorsaak ook dat die elektriese aansitter véél langer sal hou as in die Europese weergawes met “blou-tegnologie”. Die enigste manier waarop ‘n leek soos ek kan vasstel watter tipe metode gebruik word is die effens-vertraagde reaksietyd en die afwesigheid van die geraas van ‘n gewone aansitter.

Die enjin self is die nuwe geslag 2-liter petrolenjin met ‘n buitengewone hoë kompressie van 13:1 wat ‘n mens aan ‘n outydse dieselenjin laat dink. Die enjin ontwikkel 114 kW teen 6 000 rpm en lewer 200 Nm teen ‘n effens hoë 4 000 rpm. In kombinasie met die SISS-stelsel voorspel Mazda dat daar onder optimum gebruik ‘n verbruik van 6.9 liter per 100 kilometer met die outomatiese model verwag kan word!

Kragoordrag vind plaas deur ‘n sesgang outomatiese ratkas en stel die Japannees in staat om die naald te laat draai by 190 km/h plus.

Swak punte? Die SISS-stelsel kan partykeer verleenthede skep by bestuurders wat nie bewus is van hierdie besondere stelsel nie; persoonlik het ons besluit om die stelsel uit te skakel (daar is ‘n spesiale knoppie daarvoor) wanneer daar slegs vir kort tye by verkeersligte gestop word. Andersinds geen klagtes nie, net lof!

Die CX-5 kom volledig met ‘n 3 jaar Mazda padbystandsdiens, ‘n vyf jaar/90 000 km diensplan en 4 jaar/120 000 km fabriekswaarborg. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Al vraag wat nou oorbly is waar die naaste Mazda handelaar in 2014 gaan wees; dit is wyd bekend dat Ford en Mazda se paaie binnekort gaan skei en dat daar veranderinge in die herstrukturering gaan plaasvind!

Leave a Comment