Pad toets: Opel Astra 1-liter

Pad toets: Opel Astra 1-liter

Europese Kampioen van die jaar!

Wayde van Niekerk het bewys dat bultende spiere en ‘n groot lyf nie noodwendig beter is as goeie gene nie! Dieselfde kan van die nuwe Opel Astra met sy klein 1-liter enjin gesê word. Hier in die 1970’s was die vierkantige Kadett ‘n gesogte voertuig wat eerlike waarde vir geld verteenwoordig het…

Toe kom die meer stroom-belynde en moderne bakwerk en die maksimum snelheid neem meteens dramaties toe tot 172km/h uit ‘n 1,4L enjin – sonder om die spesifikasies van die enjin te verander.

Vir dié wat nie tevrede was met die reeds puik verrigting van die Kadett nie, was daar die Opel BOSS wat spoedvrate letterlik en figuurlik in die hemel laat beland het!

Nou het Opel dit weer gedoen met die ontwerp van hierdie Astra, deur ‘n kleiner turbo-aangedrewe enjin te gebruik. Selfs met die een-liter turbo-eenheid wat ons getoets het, is hy nog steeds in staat om die ikoniese 200 km/h te haal. Selfde resep as in die 1980s.

Hoe bereik ‘n mens hierdie prestasie?

Die antwoord lê daarin om van oortollige gewig ontslae te raak; daar is 200 kg afgeskud deur individuele items soos die uitlaatstelsel en sitplekke te herontwerp, sonder dat dit die motor as sulks swakker maak.

Inteendeel, die bakwerk is heelwat sterker gemaak en daar is minder verwringing as in die vorige model. Die Audi slagspreuk van “voorsprong deur tegnologie” is beslis nie net op dié vervaardiger van toepassing nie!

Deur die Opel Astra se nuwe bakwerk meer lugdinamies te maak, het die lugsleur- of lug-weerstand afgeneem en is die lae syfer van slegs 0.285 CD bereik. (Onthou Wayde van Niekerk se geheime wapen teen manne soos Bolt en Kie; hy het minder windweerstand as hy vinnig hardloop!).

Een van die voordele is ‘n beter brandstofverbruik as by sy voorganger. Die beter verbruik word ook verkry deur die Start/Stop funksie; iets wat by al hoe meer vervaardigers gebruik word om beter syfers te verkry.

Die hart van Astra is ‘n 999cc EcoFlex driesilinderenjin wat tot 77kW en 170Nm (teen ‘n rustige 1,800rpm) aan enige bestuurder beskikbaar stel. Over geset synde, daar hoef nie teen elke bult na ‘n laer rat oorgeskakel te word om momentum te behou nie.

Die eenliterenjin is dieselfde as wat in die Opel Adam en Opel Corsa modelle gebruik word, maar is ‘n minder vurige eenheid.

Die voordeel van die effens swakker enjin is dat dit beslis ‘n langer lewe gaan hê. Dit is goeie nuus vir die koper, want een of ander tyd in ‘n voertuig se lewe gaan ‘n turbo die gees gee, al is dit eers op 200,000km, of later.

Die oordrag van krag na die voorwiele is via ‘n vyfgang-ratkas en, soos by alle Opels, is die koppelaar se aksie lig en skakel die ratte maklik oor.

Met hierdie enjin- en ratkas- kombinasie versnel die Astra van rus tot 100km/h in net oor 11 sekondes, en kan volgens Opel ‘n verbruik van so laag as 4,3 l/100km verwag word as mens die lepel versigtig druk. Die vervaardiger maak ook aanspraak op ‘n uitlaatgas-lesing van 99g/km.

Op die pad hanteer die Astra 1L uitstekend met sy nuwe MacPherson voorsuspensie wat nou gebruik maak van ‘n aluminium “poot”, terwyl ‘n meerskakel Watts stelsel agter gebruik word. Die stuur het net die “regte” gevoel en dit word elektries beheer sodat meer enjinkrag as by konvensionele hidrou-liese stelsel beskikbaar is.

Die lys van elektroniese veilig-heid hulpstelsels is volledig; die leser ken al die afkortings: ABS, EBD, BAS… en TSA. Laasgenoemde afkorting is selfs vir my nuut: In Afrikaans vertaal beteken dit sleepwa stabiliteitsbeheer.

Indien ‘n Opel-goedgekeurde sleepstang gebruik word, tel dit onstabiliteit van die sleep- of woonwa op en sal dan deur middel van die ABS-stelsel die betrokke wiele laat sluit-en-los om die probleem op te los. Dis nou ‘n goeie en praktiese hulpmiddel.

Ons toetsmotor het elektriese vensters voor, maar agterste passasiers sal nog hand aan die handvatseltjie moet slaan om ruite oop en toe te kry. Maar is hierdie klein koste-bespaarder nie ook ‘n veilig-heidseienskap nie? Daar was al gevalle waar mense dood is omdat die elektriese ruite nie kon oopkom nie!

Die Astra-reeks is volledig; daar is die populêre 1,4 liter enjins en dan die topreeks met 1,6 liter turbo-enjins. Die nuwe modelle van Opel is almal toegerus met alles wat kan oopmaak en toemaak; asook allerhande soorte ligte en natuurlik ook gevorderde waarskuwingstelsels om enige ongelukke te vermy.

Maar hierdie dinge kom teen ‘n prys. Die pryse wissel dan tussen N$263,500 vir hierdie basiese Essentia-model, en N$420,000 vir die topmodel 1.6T Astra Sport PLUS MT.

Die koper kry gemoedsrus vir sy N$263,500 omdat hy saam met die nuwe Opel Astra ook ‘n diensplan van vyf jaar of 90,000km ontvang.

Leave a Comment