GT staan vir “ge-tune”
Die “ge-tune” is apokrief en kom uit die jare sewentig in die Kalahari waar Engels min gehoor word en Afrikaans sy eie en mooi uitdrukkings het. Soos die leerling wat vir my ‘n opstel geskryf het waarin sy gesê het dat die man “skroutaaier” om die draai gekom het!
Die 308 GT Line met sy 1,2 liter, driesilinder enjin is wel heelwat warmer as die standaard Active-model maar gee nog nie die verrigting van die volbloed 308 GT met sy 1,6 liter enjin nie. In hierdie geval het ons dus te make met die blikbrein wat die verrigting van die motor beheer – maar hieroor later meer.
Peugeot is seker een van die vervaardigers wat die meeste onderwaardeer word. Die jare waarin hy die sewende beste verkoper vir ‘n enkele model in die land was, is onherroepelik verby want alles het intussen radikaal verander. Dit was dieselfde jare wat die Valiant die beste verkoper was en het die einste Valiants ‘n paar jaar later die geliefkoosde taxi van die massa’s geword lank voordat die HiAce op die horison verskyn het.
Ten spyte van die onttrekking van Peugeot in die 1980s het hierdie merkwaardige vervaardiger steeds sy getroue aanhangers gehad, iets soos die manne wat Volvo’s en Alfa’s gery het en steeds by hulle sweer. (En dan ek seker ook maar bely dat ek een van hulle is, objektiewe motorjoernalis of te not).
Die Franse het nog al die jare styl gehad en net die iets anders wat ander deugdelike en deeglike vervaardigers kort. Met die 308 was hulle weer in die kol en is dit veral die vrouens in die huis wat mal is oor die stilering en algemene uitleg van die instrumente, sitplekke en al die dinge wat raakgesien kan word in die motor. En om kompeterend te bly is al die luukses en vermaaklikheidsdinge standaardtoerusting in die GT Line. Ook natuurlik al die veiligheidseienskappe soos ses lugsakke en stabiliteitsbeheer om die wiele almal op die pad te hou as dinge begin rof raak.
Die elektronika word ook oorgedra na gerieflikheidsitems soos reënveërs wat self aangaan as die eerste druppels val en hoofligte wat vanself domp as voertuie in die aand van vooraf kom, en dies meer en dies meer!
Daar is ook die praktiese dinge soos wegtrekhulp teen bulte waar beide beginners en ou veteraanbestuurders sonder terugrol kan wegtrek! Net so prakties is die goeie ou gewoonte om die motor met ‘n volgrootte noodwiel toe te rus en nie staatmaak op botteltjies doepa om lekbande te probeer regmaak of Mariebeskuitjie wat min plek in die kattebak opneem nie. Suid-Afrika is nie Duitsland nie! Verder is daar aparte kontroles vir die klimaatbeheer in die motor; let wel, nie net eenvoudige lugversorging nie. En dan die voordeel van outomatiese spoedbeheer om die lastige versteekte kameras op ons paaie te pypkan.
Die vroue in die huishouding hou van die lyne van die bak en die binne-afwerking en die jongetjies het gehou van die groot 17” vellings met relatief min rubber tussen die bak en die teer. Hierdie bly natuurlik ‘n saak van persoonlike smaak.
Die vraag is hoe die knaap ry. Iewers is daar DNA-gene wat van geslag tot geslag oorgedra word en was vering nog altyd Peugeot se sterk punt. Dit geld ook vir die 308 met sy perfekte padmaniere oor alle soort paaie en draaie. Peugeot was, na die Ford Zephyr en Consul, die eerste om McPherson stutte voor te gebruik en hierdie uitleg het nou die norm vir alle motors geword.
Pluspunt hier.
Die hart van die 308 is die reeds deeglik-beproefde 1,2 liter met sy drie silinders – sonder die eienaardighede van hierdie tipe enjin. Die gelykmatigheid en verrigting, wat herinner aan ‘n warm viersilinder, kan toegeskryf word aan die turbo-aanjaging wat wringkrag teen so laag as 1 750 rpm beskikbaar stel, ‘n hele 230 Nm. Met die lepel op die vloer ontwikkel die baie gewillige enjin 96 kW teen 5 500 rpm. Gekoppel aan ‘n sesgangratkas versnel die knaap van 0-100 km/h in 11,6 sekondes en die naald gaan draai by 207 km/h. Dit is nou nie aardskuddend nie maar vir die meeste van ons gewone motoriste is dit méér as genoeg, veral as die koste van spoedkaartjies in gedagte gehou word.
Wat kos hierdie Franse sjarme? Die handelaar sal tevrede wees met ‘n tjek vir N$357 900. Maar ‘n volle navigasiepakket vir die raak-skerm sal die koper nog ‘n N$10 000 uit die sak jaag; iets wat ekself sal aanskaf by so ‘n kooptransaksie.
Is dit té duur?
Daar is die goedkoper 308 wat ‘n paar kilowatt en Newtonmeter minder beskikbaar het teen N$304 900.
Wat kry die nuwe Peugeot-eienaar nog? ‘n Waarborg vir 3 jaar en ‘n diensplan vir 4 jaar of 60 000 km. ‘n Onderhoudsplan is ‘n opsionele ekstra. En die gevoel dat hy nie net nog een van die Duitse buksies ry nie wat hom uniek maak en laat uitstaan in die grys massa!