Pam Brink, Peugeot en Lüderitz

As jong student in die sestigerjare het my paaie met die legendariese dominee Pam Brink gekruis.

Pam Brink was van 1950 tot ongeveer 1954 ‘n jong predikant op Lüderitz voordat hy ‘n beroep in Arusha, Tanganjika, aan die ander kant van Afrika aangeneem het. Maar dit was op Lüderitz wat die predikant, by wyse van spreke, tot “bekering” gekom het. Dit was nou toe hy Peugeot ontdek het!

Jare gelede het ek op ‘n volbladadvertensie vir Peugeot in ‘n ou Cape Times afgekom. Dit was ‘n ongevraagde getuigskrif vir die Peugeot 203 wat die dominee aan die agente waar hy die motor gekoop het, Atkinsons Motors in Kaapstad, in Kaapstad gestuur het. Sy kerkraad het die nuwe 203 in September 1952 as ‘n “huisbesoekmotor” daar gekoop om sy groot gemeente te bedien, wat ook Sendelingsdrif ingesluit het.



Tot op daardie stadium het Pam Brink net Chevs en Fords besit. Hy self was maar half onseker of hulle die regte keuse gemaak het omdat Peugeot tot op daardie stadium nog nie in Namibië bekend was nie. Ná ses maande en 10 000 myl later het hy besluit dat die Peugeot wel  ‘n goeie koop was.

Hy meld in sy brief dat hy deur die Namibwoestyn met sy stof, sand en weggespoelde paaie gery het en net lof vir sy motor, met die registrasienommer L 83, gehad het. Wat hom veral verbaas het was dat hy nooit oorverhit het nie ten spyte van die slegte sand- en duinepad na Sendelingsfontein en dat die wind dikwels van agter af gewaai het en daar nie ‘n natuurlike deurvloei van lug na die verkoeler was nie. Boonop het hy 32 myl per gelling behaal; amper dubbeld van wat sy Chev kon doen. Die gemeente wat die onderhoudskoste betaal het, het dus dubbeld en dwars voordeel uit die Peugeot gekry.

Verder het hy uitgewei oor die soliede bakwerk wat geen krake getoon het of snaakse geluide gemaak het nie, iets wat hy nie van sy Chev kon sê nie. Die opvatting dat die 203 “te lig” vir die slegte grondpaaie sou wees, is ongegrond.

Die brief aan Atkinsons is op 23 Maart 1953 in die pastorie op Lüderitz geskryf en versend.

As Peugeot-bekeerde is hy met sy gesin na Arusha waar Peugeots besonder gewild was. Die gewildheid was grootliks as gevolg van die sukses wat die 203’s vanaf die begin van die Oos-Afrika Safari tydren in 1953 behaal het. Boonop het die roete wat in die tydren gevolg is, die straat reg voor die pastorie op Arusha ingesluit. Die Brinks kon die Safari van hulle voorstoep af volg!

Anders as in Suid-Afrika, was daar variante van die 203 sedan in Tanganjika beskikbaar. Benewens die stasiewa was daar ook ‘n ligte bakkie aangebied. Met die groeiende Brink gesin was die stasiewa die aangewese voertuig vir die paar duisend kilometers Kaap toe waar daar Kersfees in die Karoo deurgebring is.

Mettertyd het die Brinks se 203 stasiewaens begin plek maak vir 403 stasiewaens.

In die proses van rondry op bospaaie om gemeentelede op te soek het Pam Brink handig geraak met gereedskap en noodsaaklike herstelwerk – want ook Peugeots kan op snaakse plekke ‘n kwaal ontwikkel. (Ds Brink het lidmate in die Ooste van die Kongo ook gehad). Boonop was sy salaris van minder as £100 per maand nie genoeg om sy Peugeots by die agente te laat diens nie en moes hy hierdie werk self begin doen. Sy reputasie vir die regmaak van Peugeots het wyd en syd bekend geraak en lidmate het ook met hulle motors by die pastorie-garage hulle opwagting gemaak om nuwe lewe in hulle rygoed te blaas.

Miskien is die volgende storie apokrief; maar ek glo dit is waar: As die Peugeot-agentskap op Arusha nie ‘n steeks Peugeot aan die gang kon kry nie het hulle hom eenvoudig pastorie toe gesleep om daar onder die predikant se hande deur te loop waar hy weer rybaar gemaak is!

Natuurlik moes die dominee se voorliefde vir Peugeots ‘n invloed op sy gemeentelede in Oos-Afrika gehad het.

In ‘n brief wat ek onder onder oë gehad het, skryf ‘n lidmaat aan Pam Brink dat haar man hulle plaas vir £25 000 verkoop het en “al wat hy met die geld gedoen het was om ‘n Peugeot vir £750 te koop”.

Dit sê alles!

Leave a Comment