Sestig Jaar Citroën DS

Sestig Jaar Citroën DS

Citroën is ‘n ander soort motor en dit is nou sestig jaar sedert die “anderste”, vaartbelynde haai-op-wiele die aandag wêreldwyd getrek het, en nog steeds fassineer.

Almal ken die “outydse” Citroën, meestal swart, met die lang neus, groot kopligte op die modderskerms en voorwielaandrywing wat vanaf 1935 tot 1955 op Suid-Afrikaanse paaie vir hulleself naam gemaak het as die motor wat nie kon omval nie.

Op Killarney en die ander ouer renbane in die Kaap was daar in die vyftigerjare ook ‘n baie netjiese tuisgemaakte Citroën renmotor waar die enjin agter gemonteer is en waarvan daar foto’s in Britse motortydskrifte verskyn het.

Maar die pad tussen Citroën en Suid-Afrika kom al heelwat langer. In die vroeg dertigerjare het ‘n Fransman met ‘n paar Citroëns met rusperbandaandrywing agter Afrika met mening gepak op ‘n trans-Afrika safari sommer regdeur die Sahara na die Kaap se kant toe. Die Huisgenoot  het sy lesers gereeld op hoogte gehou van die vordering van hierdie gevaartes.

Dit was die Citroën Traction Avant (voorwielaandrywing) van 1935 wat die tweede belangrike ontwikkeling was. Die sukses van die DKW, met sy voorwielaandrywing, het moontlik bygedra tot die ontwikkeling van die nuwe Fransman.

Almal se oë het amper uitgeval toe die eerste foto’s en beskrywing van die DS ons lesers hier aan die Suidpunt in 1955 bereik. Ek was ‘n knapie van elf en onthou nog hoe my pa, wat glad nie ‘n kar-mens was nie, my nadergetrek het om die foto en artikel in Die Burger se Saterdag bylae; die Byvoegsel, te wys. As my pa oor ‘n motor opgewonde geraak het, was dit ‘n groot gebeurtenis! Veral nadat die vorige model basies onveranderd reeds twintig jaar op die mark was.

Op Uniondale het ons in afsondering van die motorwêreld geleef en het die boere Fords en Chev’s gery. Dit was eers ‘n jaar of vyf later wat ek die eerste een in lewende lywe in die Baai gesien het. Intussen het CAR Magazine in sy heel eerste uitgawe in Februarie 1957 ‘n hele blad afgestaan om die voortreflikhede van die DS uit te wy; ‘n verslag wat ons almal met groot belangstelling gelees het.

Die ou vooroorlogse Citroën het egter nie sommer van die toneel verdwyn nie, in die April uitgawe van CAR was die pryse vir beide die ou vorm en die nuwe DS modelle as £1 099 en £1 217 aangetoon. Vir ‘n prysvergelyking; die Mercedes-Benz 180 Diesel het presies dieselfde as die DS gekos.

Citroën was vol vertroue dat hulle motor nie net ongewoon mooi was nie maar dat die unieke hidroliese/lugvering opgewasse was vir taai Europese tydrenne en het groot sukes met taai tydrenne soos die Luik-Sophia-Luik tydren behaal. Dit was egter die befaamde ren- en tydrenjaer Gendebien wat suksesvol met die DS ook aan die Algiers-Kaapstad deelgeneem het en op die laaste van hierdie trans-Afrika rit kort agter Mercedes-Benz geeindig het en sy foto onder Tafelberg kon laat neem.

Die DS, met kragremme, kragstuur en half outomatiese ratkas, was effens aan die duur kant en nie te lank daarna nie het die goedkoper ID model op die mark gekom. Hierdie motor is ook in Slough aan die rand van Londen gebou en plaaslike verrigtingondernemings soos Connaught het die DS en ID modelle in ware GT-formaat transformeer.

In Oos-Afrika het Citroëns ook goed gevaar in die Safari-tydren. Met die koms van die Citroën SM, die tweedeur met die Maserati-enjin, was die berugte diktator Idi Amin van voorneme om aan die Safari-tydren deel te neem met een van sy jong seuns as navigator. Dit het gelukkig net by voornemens gebly.

Met verloop van tyd het die DS en ID meer vaartbelyn geraak maar die belangrikste eienskap was steeds die olie/lugdruk vering wat hom uniek gemaak het; dit was ook die enigste motor wat op drie wiele kon loop – wanneer een van die agterwiele afgehaal is en die suspensie op “hoog” gestel was!

Die British Motor Corporation het die Citroën se veringstelsel probeer na-aap maar met die eerste motors waarmee hulle aan die Safari deelgeneem het, was ‘n totale ramp. Dit lyk of die Franse die enigstes was wat die regte resep geken het.

Behalwe die DS en ID sedans het daar ook ‘n paar Safari-stasiewaens hul opwagting hier gemaak en is waarskynlik van die mees-gesogte modelle onder die eienaars van die roemryke Franse motors. En dan was daar nog die unieke DS-bakkie wat ‘n Strandse eienaar van ‘n Citroën werkswinkel jare gelede gebou het; ‘n ware meesterstuk.

Stories oor hierdie klassieke Citroëns is volop; hoe hulle op jeeppaaie in die Sederberge net die hefboom getrek het om bo alles uit te troon en dan harde 4X4s destyds in die skande gesteek het. So ook my niggie Dinkie se man wat jare gelede geglo het dat die Hemel ‘n plek is waar jy Citroëns met V8-enjins gaan kry!

Ongelukkig het harde ekonomiese feite die maatskappy onverhoeds gevang en is alle nuwe Citroëns amperse klone van Peugeot – van wie hulle nou deel is. Wat in die slag gebly het, is die unieke veringstelsel maar daar is meer voordele as nadele, Peugeot was nog al die jare ondernemend en bekend vir hulle suksesse in tydrenne en taaiheid in tydrenne.

Die koms van die DS3 getuig van die lang tradisie agter Citroën (en Peugeot). Geen wonder dat die nuwe knaap uiterlik nogal sterk herinner aan ‘n Citroën SM uit die vroeg sewentigs!

Leave a Comment