MINI se (amper) 50 jaar in Suid-Afrika en eie ervarings
BMW het so pas ‘n persvrystelling uitgereik oor die vyftigjarige herdenking van die bekendstelling van die (Morris) Mini en Austin 7 aan die wêreldpers in Augustus 1959 in Brittanje. Hierdie klein minimotor met sy mini-afmetings buite maar met ‘n ruim binnekant, het die wêreld soos ‘n storm getref en die destydse vervaardiger, BMC, of te wel British Motor Company, kon nie voorbly met die produksie van die klein kalant nie.
Suid-Afrika moes so ‘n bietjie wag om die nuweling te kon koop. Reeds in die November en Desember uitgawes van die gerespekteerde motortydskrif CAR was ons in kennis gestel van die opwagting van die rewolusionêre nuwe Mini (asook die Anglia met sy ewe rewolusionêre bakvorm) vroeg in 1960.
Die eerste reeks Mini’s is reeds in geheimhouding einde 1959 in die Blackheath-fabriek buite Kuilsrivier gemonteer en vroeg in 1960 landswyd na die BMC agentskappe oor die land versend. Een van die eerste Suid-Afrikaans vervaardigde modelle is in die geheim deeglik getoets; Harry Pierce het met ‘n Mini van Johannesburg na Durban in 6 uur 49 minute gery wat ‘n gemiddelde snelheid van 60 myl per uuur verteenwoordig het en kon met ‘n verbruik van 38,6 myl per gelling spog. Daarna is die Mini na Oos-Londen teen ‘n meer gematigde 50-55 myl per uur bestuur en is ‘n lofwaardige 54,2 myl per gelling behaal. Vandaar dan ook die advertensieveldtog by ons dat die Mini 50 myl per gelling teen 50 myl per uur behaal.
Die Mini het met sy bekendstelling in Suid-Afrika £523 gekos hoewel die Austin 7, sy eweknie, ‘n man £525 uit die sak gejaag het. Die enigste verklaring hiervoor is dat die Austin wapen duurder moes gekos het om te vervaardig want behalwe vir wapen, was die twee motors identies!
Stirling Moss het reeds die Mini geloof vir sy sportiewe gedrag en ook plaaslik het die Mini reeds in Februarie 1960 in ‘n nasionale tydren die eerste plek in sy klas verower.
Dit het ‘n tyd geneem voordat ek die eerste keer ‘n Mini gesien het. Op Uniondale in die Klein Karoo was daar net ‘n Ford, Chev en Borgward agentskap. Dit was eers op Stellenbosch wat ek ‘n Mini in aksie gesien het toe hy in ‘n hoogs-onwettige jaagtog rondom die koshuise, ‘n “warm” Volkswagen Kewer laat les opsê het. Daarna het ek die Mini in ‘n totaal nuwe lig gesien!
Die sportiewe sedan is kort hierna aangevul deur die oulike stasiewa, paneelwa en die klein bakkie wat ‘n mens nie anders as cute kan beskryf nie. (Wat sou geword het van Garies Dreyer se groenetjie?). En ‘n paar jaar later het die Mini Moke op die toneel verskyn; ‘n halfskaal kopie van die legendariese Willys Jeep – behalwe dat hy net in sy voorwiele aangedryf het.
Na Stellenbosch is ek Malawi toe om te gaan skoolhou. Met baie min geld wou ek sou gou as moontlik my eie wiele hê en was my eerste koop ‘n vyfdedehandse Peugeot stasiewa wat Fanie Smit (van RSG op Sondagoggende) van Stellenbosch af Noorde toe gebring het. Vir die rondry in die bos het hy hom goed van sy taak gekwyt maar vir die langpad Kaap toe het ek besluit om my eerste bekostigbare nuwe motor te koop. Die vraag was watse motor wat ‘n jongman op ‘n sendingsalaris van £44 kon bekostig? Die enigste keuse, behalwe ‘n Renault 4, was die Mini paneelwa teen £545. Die ander keuse was natuurlik die Mini Moke teen £525 maar dan was hy sonder ‘n seilkap en kantseile en was die totale prys met hierdie noodsaaklik bykomstighede £555.
Met die nuwe paneelwa is ek Kaap toe en ek onthou dat my petrolkoste terug tot in Malawi £25 was! Die Mini se swakpunt was natuurlik sy lae grondvryhoogte en op Malawi se grondpaaie was dit nodig om ‘n skermplaat onder aan te bring – wat hom natuurlik nog laer gemaak het. Dit het hom egter nie gestuit op paaie waar die pens vir kilometers op die modder gesleep het nie; alles was reg solank daar net genoeg momentum was!
Ná Malawi, en ‘n hele paar ander motors later, het ek op ‘n vakansie in die Kaap ‘n gebruikte Mini Moke by ‘n handelaar gesien en hom vir R450 gekoop voordat ek die lang pad Ovamboland toe met hom aangepak waar ek toe skoolgehou het. Hier het ek die wye vlaktes op pad na Etosha met hom plat gery op klein ontdekkingstogte voordat die grensoorlog losgebars het.
Die enigste verandering wat ek aangebring het, was om die 10-duim voorwiele te vervang met die van ‘n Fiat 1500 se 13-duim wiele. Hiermee was die ratverhouding natuurlik totaal verkeerd en kon ‘n mens kwalik jou snelheid in vierde rat handhaaf. Agter kon ek dit nie doen nie omdat die wiele teen die suspensie-arm sou skuur en dit drasties en teen groot koste aangepas sou moes word.
Die idee van die groter wiele het ek by my Angolese vriende van destyds gekry omdat hulle daar met Mini Mokes gery het wat uit Australië af ingevoer en met 13-duim bande wat die grondvryhoogte aansienlik verbeter het. Die Australiese Mokes se ratverhouding was natuurlik aangepas vir die groter bande. En nog later, nadat Moke produksie in Engeland en Australië gestaak is, het BMC in Portugal die “groter” Moke daar steeds bly vervaardig.
Intussen het die Mini by ons van die toneel verdwyn nadat BMC-Leyland van die toneel verdwyn het. Groot was my verbasing in 1987 toe ek in Duitsland nuwe Mini’s in vertoonlokale aangetref het en uitgevind het dat die Mini toe nie verdwyn het nie. En op die ou end het BMW tot die Britse vervaardiger se redding gekom in die negentigerjare.
In 2002 het ek die bekendstelling van die Nuwe MINI in Johannesburg bygewoon en kon ek weer die “gevoel” ervaar van my eie Mini’s wat nou net op 35 mm skuifies en fotos bestaan, onder andere die foto op een van die “verkenningstogte” in Suid-Ovamboland waar my ouers, nou lankal oorlede, die ongeskonde dele van die besondere landskap met my kon deel. Lank lewe hulle nagedagtenis – en ook die eerste reeks oorspronklike Mini’s wat die Engelse destyds wêreldwyd lanseer het.