Van Kaapstad tot Parys – en nou Dakar!
Dit was die legendariese Peugeot 203 wat in die vyftigerjare aan hierdie vervaardiger ‘n reputasie as ‘n kanniedood en geharde voertuig vir Afrika-omstandighede gevestig het. Hierdie reputasie was hoofsaaklik te danke aan twee Franse, monsieurs Mercier en Se Cortanze, wat in 1951 met ‘n 203 stasiewa ‘n nuwe rekord geslaan het deur die afstand van Kaapstad na Parys in 17 dae en 9 uur af te lê.
Hierdie tog was onderneem juis toe die eerste Algiers-Kaap tydren plaagevind het, ‘n ultramarathon waaraan Peugeot ongelukkig nie deelgeneem het nie.
Mercier en De Cortanze het die oggend van 26 Desember 1950 om eenuur uit Kaapstad vertrek op die lang tog na Parys, via die Franssprekende Wes-Afrikaanse kolonies en die Sahara. Langs die pad het hulle die Algiers-Kaapstad tydren mededingers raakgeloop wat op daardie stadium juis in die teenoorgestelde rigting op pad was.
Die 203-jaers het basies gedoen wat die Algiers-Kaap deelnemers gedoen het want hulle vanaf Algiers na Marseille gevlieg. Hulle gemiddelde snelheid van die Kaap na Algiers was egter ‘n goeie gemiddelde van 40 km/h. Die enigste toerusting wat die manne met die stasiewa saamgery het, was staalplate en ogiesdraad om hulle deur die moerasse, modder en sand te help; toerusting wat hulle dikwels moes benut. Met hulle aankoms in Parys op 12 Januarie 1951 het hulle ‘n helde-ontvangs geniet.
Met hierdie stukkie reklame van net twee mans het Peugeot 203’s soos soetkoek in Oos-Afrika begin verkoop en spoedig die Britse vervaardigers in die gewese Engelse kolonies begin seermaak. Met die instelling van die Coronation Safari in 1953 – die voorloper van die Oos-Afrika Safari – was Peugeot klokslag met sy 203’s daar en het sy reputasie as tydrenmotor van krag tot krag gegaan. In 1954 het drie 203’s sy klas gewen (Motors goedkoper as £750).
Met die koms van die 403 in die middel van die vyftigs het Peugeot ook 203 en 403 spanne vir die Safari tydren ingeskryf, so ook vir die Algiers-Kaap marathon. Laasgenoemde was die voorloper van die Parys-Dakar tydren en het die Fransmanne besonder goed gevaar. Die plaaslike Peugeot-agente het die suksesse van die 403 behoorlik benut en is die prestasie van die Peugeot tydrenners in die 1959 op ‘n dubbelblad van die Cape Times op 23 Februarie 1959 uitbasuin!
Met die onrustige politieke toestand vanaf 1960 in Afrika het die Algiers-Kaap tydren doodgeloop en het Peugeot hoofsaaklik aan die Oos-Afrika Safaritydrenne deelgeneem. Met die koms van die 404, wat in Februarie 1961 in Suid-Afrika bekend gestel is, het Peugeot sy Oos-Afrika suksesse verder uitgebrei en met die legendariese 404 vergasser- en brandstofinspuitingmodelle jaar-na-jaar skoonskip gemaak. In 1962 en 1965 en 1966 het die 404’s skoonkskip gemaak en het daar ook die nuwe 204’s hul opwagting in die Safari gemaak. Maar blykbaar was voorwielaandrywing op hierdie stadium nie die gewensde aandrywingstelsel vir regte rowwe paaie nie.
Met die uitfaseer van die 404 het die nuwe 504-modelle tot die stryd toegetree en weereens suksesse ingeryg; hierdie keer nie deur die gesoute Oos-Afrikaanse “amateur”-spanne nie maar direkte inskrywings uit Parys met volle fabrieksondersteuing. Intussen het die Peugeot 205 tydrenmotor suksesse vir Peugeot in Europa en Wes-Afrikaanse tydrenne soos die Bandama ingeryg. Ongelukkig het ons noooit in Suid-Afrika die gewilde 205’s gesien nie. Die spesiale 504 Coupé was veral ‘n staatmaker in die Peugeot stal en die plaaslike Peugeot entoesiasiste, die Laubser broers, het ‘n replika van hierdie motor gebou en word hy gereeld op skoue gesien!
Peugeot het vir ‘n hele aantal jare uit tydrenne onttrek maar steeds suksesvol aan die internasionale kampioenskap met sy Citroëns deelgeneem. Dit was dus goeie nuus vir Peugeot-entoesiaste wêreldwyd toe hulle ‘n jaar gelede weer tot die Dakar toegetree het, al was die tydren nou op ‘n ander kontinent!
Nou is Peugeot wéér aan die voorpunt met die sege in die belangrikste van alle uithoutydrenne met die 2008 – met agterwielaandrwing soos aan die beginjare! Van harte geluk Peugeot!