Padtoets: 2012 Lexus RX450h

Koning van Japan?

Dit voel soos nou-die-dag wat ek die bekendstelling van die eerste Lexus RX-modelle ‘n hele paar jaar gelede in die Kaap bygewoon het. Die eerste indruk van die RX was dat hy ‘n nuwe mode stelling gemaak het met sy vaartbelynde voorkoms en die toonbeeld van krag wat hy uitgestraal het, heeltemal in kontras met die 4×4 voertuie van die tyd.

Daarna het van die ander vervaardigers die Lexus RX probeer na-aap, maar met minder sukses. En net toe die ander so half begin bykom, kom die byderwetse koning van Japan en hy voeg hibriede krag by, ‘n motor met ‘n konvensionele V6 petrolenjin plus nog  twee kragtige elektriese eenhede wat daardie ekstra krag en woema gee as dit die slag nodig is.

Vanaf my eerste rit met die Toyota Prius, die eerste hibriede motor wat werklik wêreldwyd aftrek gekry het en onder die Hollywood sterre die “in” motor is, het die tegnologie my behoorlik gefassineer. Die veeldoelige videoskerm in die motor wat allerlei interessante inligting toon, wat navigasie insluit, word by my altyd gestel om die tipe aandrywing aan te toon; wanneer werk die elektriese motor, wanner laai die battery en wanneer skop die petrolenjin in. Dit het gewoonte geraak om twee redes: om te sien hoe die minste energie verbruik word en ook om te sien hoe ekonomies daar moontlik gery kan word.

Die deursnee koper van die RX450h sal waarskynlik nie hierdie suinige maniere van my deel nie; as jy die geld kan uithaal vir hom, is brandstofverbruik waarskynlik laaste op die lys. Dinge soos die luukse en hoogstaande toerusting en afwerking binne, die rygemak en die vermoë om oor 4×4 vermoë te beskik indien dit sou nodig word, is seker van die deurslaggewende faktore. Maar dit is waarskynlik die wringkrag of trekkrag wat die koper die meeste gaan beïndruk. By die normale RX350, wat dieselfde petrolenjin met die RX450h deel, is daar 204 kW beskikbaar teen 6 200 rpm. Met die elektriese motore bygevoeg, kom die totale kW by die hibriede weergawe op 220 te staan; slegs ‘n paar perde ekstra. Dit is egter by die wringkrag wat die groot verskil ervaar word; die Newton-meter spring vanaf 346 tot ‘n fenomenale 791. Dit is nou krag waarmee ‘n man treintrokke kan sleep teen ‘n wettige maksimum snelheid op die N!

Die brandstofverbruik van hierdie byderwetse koets met sy kragtige perde is verbasend laag as dit met soortgelyke maar minder opvallende modelle vergelyk word. Die staatmaker tydskrif CAR gee ‘n gemiddelde verbruik van so laag as 7,6 l/100 km aan terwyl die snelheidsmeter by 200 km/h sal gaan draai. Wat in die slag bly is die versnelling waar 100 km/h in net minder as 10 sekondes plaasvind. Daar is dus goedkoper manne wat hom in hierdie enkele aspek die loef gaan afsteek. Maar as daar na die verrigting van ander duurder modelle uit Engeland en Duitsland gekyk word, is die verskil nou ook nie regtig so groot dat daar ‘n ophef van gemaak kan word nie. En – hulle is regtig nie omgewingsvriendelik nie!

Soos verwag kan word van die Lexus 450 hibriede luukse sedan-4×4-stasiewa is al die denkbare en ondenkbare elektroniese en meganiese veiligheidstelsels aan boord en pas dit by die luuksheid en gemak in die kajuit waar die bestuurder en vier maats die jongste elektronika kan benut. En vir die wat nog nie weet nie; die Lexus is in die klas van die heel bestes wat Duitsland kan bied. Gee nog ‘n bietjie tyd en die ander manne sal die Lexus as die standaard begin gebruik waarteen die ander gemeet gaan word.

Vir die wat nog twyfel aan die van-die-grootpad-af vermoë is dit miskien die moeite werd om die verslag van die tydskrif Leisure Wheels te lees toe hulle met die hibriede Lexus die bekende Sani-Pas uitgery het; die eerste hibriede voertuig om so iets aan te pak.

As dit by die prys kom, is dit ‘n ander storie. Die RX450h XE outomaties gaan die koper N$766 000 uit die sak jaag. Maar as jy nie ‘n halwe trein deur die Karoo wil trek nie, en jy nie bekommerd is oor ‘n bietjie meer skadelike gasse uit die uitlaatpyp nie, is die RX350 XE outomaties teen N$693 600 ‘n winskoop. In elk geval gaan die koper nie net nog een wees wat ‘n Duitse superwa koop om sy gewaande status in die samelewing te verhoog nie! (Moet hierdie wilde stelling nie te ernstig opneem nie; ek hoor dit maar by die sielkundiges!).

By die prys is ‘n 4 jaar of 100 000 km diensplan ingesluit en beteken dit kommervrye ry vir ‘n lang tyd. Vir die wat dit kan bekostig, geniet dit!

Leave a Comment