Terugflits in die Verlede!
Dit gebeur nie elke dag dat ons opeenvolgend die “intreemodel” en een van die topmodelle van ‘n vervaardiger ná mekaar ontvang nie. In hierdie geval was dit Audi se A1 en die groot A6, twee modelle waarin die groot broer amper twee maal duurder is as die kleiner een.
Die intreemodel waarna ons verwys is die Audi A1 met die volle, amptelike naam Sportback 1.8 TFSI S tronic. En in aanhalingstekens, “141 kW”, oftewel 192 PS oftewel die term perdekrag waarmee ons (heelwat) ouer lesers mee grootgeword het. Laasgenoemde is ‘n tipiese eienskap van die Duitsers; hulle verwys nog altyd na perdekrag in die land van “Vorsprung durch Technik”. En vir dié wat nie heeltemal by is met die nou baie bekende Duitse slagspreuk is nie: Voorsprong deur Tegnologie.
Hierdie verwysing na perdekrag is nogal verwarrend omdat daar dikwels nie ‘n uiterlike aanduiding is van die grootte van die enjin is nie of watter spesifieke model dit is nie. Hierdie inligting moet in Duitsland dikwels opgesoek word in die spesifieke motor se amptelike “briefie” of ID-dokumentjie wat ten alle tye binne die motor gehou moet word en waarin selfs die handelsnaam en grootte van die bande op die motor aangetoon word! Met die verandering van die elektroniese skyfie wat die enjinwerking beheer, kan die perdekrag drasties verhoog word sonder om die enjingrootte te verander.
Aan die ander kant van die spektrum het ons met die Audi A6 1.8 TFSI, wat 140 kW ontwikkel, te doen gehad. Ook hierdie een was met die S tronic outomatiese ratkas toegerus.
Oor die deugde van beide klein en groot broers is al die inligting in volbladadvertensies te lees, so ook op die internet en talle toetsverslae wat in die gedrukte en elektroniese databasisse beskikbaar is. Die kernfeite is kortliks die volgende: Die A1 versnel van 0-100 km/h in 6,9 sekondes en laat die naald draai op 235 km/h. En alles wat kan oop- en toemaak is daar, so ook al die elektroniese hulmiddels en luukses wat van een van die voorste Duitse vervaardigers verwag kan word.
Vir hierdie vreugde gaan die koper N$390 000 opdok.
Die A6 is vir die man bedoel wat ernstig op die suksesleer klim en bied die gerief van ruimte en, as dit belangrik is, prestige. Ons toetsmotor was die 1,8-liter TFSI met sy 7-gang outomatiese ratkas wat met sy 140 kW en 320 Nm wringkrag (by 1 400 rpm) berge kan versit met al die krag tot sy beskikking terwyl hy uiters suinig is met sy verbruik van rondom 6 liter / 100 km.
En dan besoedel hy ook nie die omgewing met sy lae koolstofvrystelling van 133 gram nie. Dit is nou werklik voorsprong deur tegnologie by uitstek. Die grootman speel ook nie op die pad nie; hy versnel van 0-100 km/h in 7,9 sekondes en laat die naald draai by ‘n hoogs-onwettige 233 km/h as dit die slag moet.
Dit kom teen ‘n prys: N$601 000.
Nodeloos om te sê dat daar goedkoper variante binne die stal van die groter Volkswagen-groep is. Maar hoekom die VW logo op die neus hê as jy iets beter, of met meer karakter, kan bekostig? Die Audi is méér as net ‘n Volkswagen met ‘n ander logo, al deel hulle sekere komponente!
Dit bring my by die advertensie wat in 1937 na afloop van die Kaapse Grand Prix by Pollsmoor in die Cape Times verskyn het. In die advertensie verskyn afbeeldings van die klein maar baie gewilde DKW saam met die 6-liter, 16-silinder Auto Union renmotors wat die eerste twee plekke verwerf het nadat hulle ‘n halfuur ná die ander moes wegtrek! Beide die DKW en Auto Union renmotors het die logo met die vier ringe op die neus gehad.
Hierdie vier ringe, wat nog altyd Audi se logo is, kom uit die dertigerjare toe die wêreldwye depressie vier vervaardigers van uitstekende motors – die DKW, Audi, Horch en Wanderer – laat saamsmelt het om as Auto Union bekend te staan. Hierdie vier handelsname was almal in die dertigerjare in Suid-Afrika te koop maar dit was slegs die goedkoop DKW wat in groot getalle verkoop het. Soveel so dat die DKW-handelaar Williams Hunt in 1934 sy motors as ‘n ware “volkswagen” geadverteer het, lank voordat die Volkswagen handelsnaam uitgedink was. En vandag is die opvolger van die DKW, die Audi A1 deel van die groter Volkswagen familie!
Audi A1 Sportback 1.4 TFSI S tronic
Audi A6 1.8 TFSi