Padtoets: Citroën C1 Airscape

Sonnige Plesierigheid!

‘n Citroën was nog nooit Jan Alleman se motor nie maar dié wat Citroëns gery het, het by hulle gesweer. En aangetroude neef Sias se idee van die hemel in die 1970s was ‘n plek waar jy Citroën DS-modelle met V8 enjins kry! My eie idee van hemel-op-aarde bly steeds om ‘n Citroën 2 CV Eendjie in my waenhuis te trek en rustig op sonskyndae met die seilkappie af seelangs Bettiesbaai toe te ry.

My droom is onlangs verwesenlik met die Citroën C1 Airscape wat op die werf aangekom het; hy is die logiese opvolger van die klassieke die ou 2 CV Citroëntjie met sy 2 (Franse) perdekrag enjintjie.

Tussen die ou 2 CV en die C1 Airscape se verskyning het baie dinge gebeur waarvan die belangrikste was dat Peugeot vir Citroën oorgeneem het en dat die nuwe modelle wel hulle eie vorm en karakter het maar die meganika is eintlik maar Peugeot (en in sommige gevalle Toyota en Mitsubishi) se beproefde eenhede.

Maar terug na die prettige plesierigheid met sy seildak wat van voor tot agter strek.

Dit is die “luukse” weergawe van die C1 wat die elektries-beheerde sondak het en in vrolike kleure en kleurskakerings die oog vang. So is die materiaal insetsels ‘n streep bont kleure wat telkens herhaal word verder in en op die klein motortjie, en klein is hy. Maar daarom ook nuttig vir die jong klomp wat nog nie geleer het om te behoorlik te parkeer nie – en ook die oues van dae wat al vergeet het hoe om te parkeer! Want dit is as stadsmotor wat die C1 benut sal word en as ‘n pretmotor vir studente en jong werkendes, manlik en vroulik hoewel dit waarskynlik vrouens gaan wees wat die “leefstyl” voorkoms van hierdie C1 gaan koop.

Binne is dit die tegnologie en elektroniese byderwetsheid wat die jong klomp gaan vang met ‘n raakskerm en sokke en verbindingspunte vir musiek op stokkies en in slimfone wat musiek deel maak van die reis. So as jy ‘n mode indruk wil maak, is die C1 die manier om dit te doen. Of soos die oueres onder ons wat ‘n regte sondak in die ou tradisie van die Eend wil ervaar.

Maar wat van die ander belangrike dinge, anders as plesierigheid en koppe laat draai?

Onder die enjinkap is die 1,2 liter, drie silinder petrolenjin wat 61 kW ontwikkel en 116 Nm vrystel. Die krag word deur ‘n vyfgang handratkas na die voorwiele oorgedra en stel die C1 in staat om van 0-100 km/h in 11 sekondes te versnel en die naald by 170 km/h te laat draai. Citroën gee ‘n lae brandstofverbruik aan van 4,3 l/100 km maar dit kan natuurlik wissel van bestuurder tot bestuurder. Met ‘n lae skadelike gasvrystelling van 99 g/km is die C1 uiters voorbeeldig en sal hy aftrek kry onder die kopers wat sterk voel oor die beoud van ons omgewing.

Op die pad hanteer die C1 goed om draaie en deur dippe is in die knapie goed geveer want al die jare lank is die Peugeot en Citroën gene, wat ‘n gemaklike rit waarborg, net te diep ingewortel. So hier verdien hy punte. Ook die kompakte ontwerp. Maar juis die kompaktheid vra ‘n prys: Beenruimte vir die die vier volwassenes wat hy veronderstel is om te dra, is beperk. So ook pakruimte in die kattebak wat slegs 196 liter hou. Die weeklikse uittog na die plaaslike mall sal dus moontlik elke tweede dag verskuif moet word.

Ons sondak C1 se prys gaan menige koper twee keer laat dink; jy gaan net minder as N$195 000 vir hierdie knapie-met-karakter moet betaal. Daar is egter goedkoper variante van die Citroëntjie as die bakvorm dié hoofrede vir die koop van die Fransman is; die standaardmodel kos N$168 990 en in die loop van hierdie jaar kom daar ‘n 1-liter weergawe teen N$139 990. Miskien is dit die moeite werd om nog ‘n bietjie te wag?

Leave a Comment